Die Helderberg-rugbyklub se suksesvolle jaar in die Superliga A duur voort ná Saterdag (19 Augustus) se oorwinning van 26-22 teen Unimil op Theo Marais-park.

Berge se speler van die wedstryd was sy skitterende skrumskakel en onderkaptein, Michael Visser, wat 16 punte tot die telbord bygedra het.

In die eerste minuut het die span se regtervleuel, Jodi Koul, van die afskop af raakgevat en tot die tuisspan se 22 genael, waar hy by Visser aangesluit het, wat die drie gedruk het.

Visser het die ekstras bygevoeg en die telling drie minute later met ’n strafdoel 0-10 gemaak. Unimil het in die sewende minuut met ’n strafdoel (3-10) geslaag.

Berge is in die 14de en 15de minute weer gestraf en Unimil het die telling na 9-10 opgeskuif.

Die linkervleuel, Luke Hertz, het die bal in die 28ste minuut gedra en na sy losskakel, Darren Hendricks, uitgegee, wat sy buitesenter, Quiwen Bauman, gevoer het. Bauman het die verdediging geklop en in die hoekie gedruk (9-15). Net voor rustyd het Unimil nogmaals met ’n strafdoel geslaag (rustydtelling 12-15).

Ná rustyd het Berge se flank Matthew Cordy sy span se derde drie gedruk (12-20).

In die 57ste minuut het Unimil sy enigste drie gedruk, wat verdoel is (19-20), en in die 73ste minuut het hy met ’n vyfde strafdoel geslaag en gedink hy wen (22-20).

Dit was nie die geval nie, want Visser het in die laaste vyf minute met twee strafdoele geslaag, wat die oorwinning versëel het (eindtelling 22-26).

Aan Berge se kant het sy agttal, behalwe vir Visser se skitterende spel, ook puik vertoon. Die stutte, eers Roux Nieuwoudt en Dehan Kruger en later Boetie Makundayi en Tristan Leitch, het hul teenstanders swaar laat leef. Die slotte Shane Kennedy en later Kyle Bender het tesame met die losvoorspelers Cordy en Labuschagne en kaptein Conway Pretorius met hul werkywer beïndruk.

Agterlangs was die losskakel, Hendricks, Bauman en die heelagter, Jeandre Lukas, ook puik.

V Vanaand (Woensdag 23 Augustus) meet Helderberg kragte met Maties in die Craven-stadion.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article