In Saterdag (3 Junie) se Superliga A-kragmeting op Hamlets het twee spelers, wat hul debuutwedstryd vir die Helderberg-rugbyklub se eerste span gespeel het, bo alle verwagtinge uitgeblink. Die span het agt keer agter die tuisspan se doellyn gaan kuier – vier keer in elke helfte – vir ’n eindtelling van 9-55.
Die groot slot Malcolm van Wyk het die doellyn twee keer in die eerste helfte oorgesteek en die haastige linkervleuel, Hughwan Engelbrecht, het ’n driekuns behaal met ’n drie in die eerste helfte en twee in die tweede helfte. Die rustyd-telling was 6 -29 met ’n strafdoel van die skrumskakel, Michael Visser, en drie doelskoppe, tesame met ’n drie deur die buitesenter Lyn-Jay Hendricks.
Verdere drieë in die tweede helfte is gedruk deur die heelagter, Jeandré Lukas, en die regtervleuel, Jodi Koul.
Visser het twee keer verdoel en die plaasvervangerlosskakel, Darren Hendricks, die laaste een. Visser, Lukas, die buitesenter, Quiwen Bauman, en Engelbrecht, het in ’n deeglike spanvertoning agterlangs geskitter. Onder die voorspelers het die lostrio – die kaptein en agsteman, Conway Pretorius, en die flanke Jady Labuschagne en Schalk Burger – aandag getrek. Die slot Kyle Bender het skitterballe in die lynstane gewen en sy slotmaat, Van Wyk, het met kragtige stormlope beïndruk.
Berge was in die skrums heeltemal te sterk vir Hamlets.
In die ander drie wedstryde het Berge se spanne ook volpunte behaal.
) Ander uitslae:
- Hamlets II teen Helderberg II: 0-32
- Hamlets III teen Helderberg III: 7-40
- Hamlets o.20 A teen Helderberg o.20 A: 7-31
Saterdag ontvang Helderberg die sterk spanne van Brackenfell in die Charles Morkel-stadion vir die klub se sesdeliga-verpligtinge.


