Helderberg Netbalklub het groot planne om soos ’n feniks uit die as te herrys wanneer die lede volgende week hul oefensessies hervat. Alle vroue en tieners wat belangstel om by die span aan te sluit, word uitgenooi om deel te neem.
Die oefensessies begin om 18:00 op Dinsdag 11 Februarie by die Helderberg-netbalbaan agter die Charles Morkel-stadion. Dit sal gebruik word om vir die komende Kaapse Wynlande-liga voor te berei en om wedstrydplanne op te stel vir die eerste wedstryd aan die einde van Maart.
“Enigiemand van 16 jaar en ouer en wat ’n liefde het vir netbal, kan by ons aansluit,” het Claudine Tobie, die waarnemende voorsitter, gesê.
Die span het nuwe bloed nodig, aangesien Tobie weens ’n besering vir die seisoen uitsit en ander spelers afgetree het. Tobie se fokus is nou op die bestuur van die span. In die klub se bloeitydperk het hulle al baie sukses behaal en sommige spelers het Boland-kleure met die hulp van die klub verkry.
“Daar is ’n unieke eenheid by Helderberg Netbalklub. Ons enigste doel is om ons sport te geniet en daar te wees vir mekaar. Hier by ons sal jy geen drama vind nie; ons is net hier om sport te beoefen,” het Tobie gesê.
Sy het voorts toekomstige spelers genooi om in te loer en die familiemilieu te kom ervaar. Vir belangstellendes om by die span aan te sluit, is dit nodig om die aansoekvorm in te vul, wat by die oefensessie beskikbaar sal wees. Vir meer inligting kan jy Tobie by 067 895 0895 bel of die klub se sekretaresse, Kayla-Lee Arnolds, by 071 548 3314.



