Helderberg-rugbyklub het Saterdag (2 September) sy 11de van 14 Superliga A-wedstryde op UWK se veld met 24-43 gewen en blykbaar na derde op die punteleer opgeskuif ná sewe drieë teen drie in hierdie wedstryd.
Berge se haker, Danie Myburgh, het in die 11de minuut gaan druk ná puik dryfspel van die kaptein van die dag, Shane Kennedy, en sy stutte, Roux Nieuwoudt en Jurgen Dorfling. Die losskakel, JJ Stover, het met die doelskop geslaag (0-7).
Die studente het die telbord in die 14de minuut met ’n strafdoel gehaal (3-7). Myburgh het sy tweede drie in die 26ste minuut ná ’n losgemaal gekry en in die hoekie gedruk (3-12). Vyf minute later was dit die slot Malcolm van Wyk se beurt met ’n kragdrie in die ander hoekie (3-17).
Drie minute later het die buitesenter, Luke Hertz, vir sy drie deur die verdediging gebars en Stover het verdoel (3-24). Die UWK het die agterstand in die doodsnikke van die eerste helfte met ’n verdoelde drie verklein (rustydtelling 10-24).
Die studente het goeie ondernemingsgees, geïnspireer deur die voormalige sewes-doyen Paul Treu, gewys en vuis gemaak. Ses minute ná die hervatting het hulle ’n tweede drie gedruk – hierdie keer deur die haker, Mauritz Swart, wat weer verdoel is (17-24).
Tien minute ná die omdraai het die slot Conway Pretorius deurgebars voordat hy Hertz via sy skrumskakel, Marshall Douman, in besit gestel het om sy tweede drie te druk. Stover het verdoel (17-31).
Agt minute later het UWK sy derde verdoelde drie gedruk (24-31). Die plaasvervangerhaker Danie Cilliers het in die 69ste minuut met krag deurgebars vir sy eerste eerstespandrie en die plaasvervangerskrumskakel Michael Visser het verdoel (telling 24-38).
In die 78ste minuut het die plaasvervangerlosskakel Daren Hendricks sterk gebreek, by sy senter Quinn Visser aangesluit, wat sy heelagter, Jeandre Lukas, gevoer het, waarna hy die doellyn in die hoek oorgesteek het (24 – 43).


