Ek wil graag my herinneringe van die ou Strand-polisiekantoor met julle deel (“Probleemgebou ná jare se gesloer gesloop”, DistriksPos, 26 Januarie).

My oorlede pa was van Maart 1949 tot einde Desember 1958 stasiebevelvoerder van die Strand-polisiekantoor, dus was die huis op die perseel van die polisiekantoor (Wesleystraat 33) vir byna 10 jaar ons woning en tuiste.

Ek was 10 jaar oud en my broer sewe jaar. My suster is later, in 1951, in die huis gebore.

Ons het goeie jare daar gehad en dit was baie opwindend om daagliks die aktiwiteite en gebeurlikhede in en om ’n polisiekantoor te kon beleef en ervaar.

Konstabel Jan Briesies, met sy aansteeklike laggie, het die Strand se strate per fiets en soms te voet gepatrolleer – en glo my, almal was bang vir hom want hy het nie nonsens gevat nie. Nogtans was hy geliefd en ’n legende en polisieman in murg en been.

My pa het die verwaarloosde tennisbaan laat opknap en elke Saterdag-namiddag, as die weer dit toegelaat het, het die klublede tennis gespeel en gesellig verkeer. Natuurlik het ons as kinders ook gesig gewys – dalk net om te deel in die koekies en koeldrank.

As kinders het ons ook gereeld by die verskeie Indiërwinkeltjies in die omgewing lekkers soos Star- en Norman-toffies gekoop.

Dit was voorwaar nie lekker om te sien hoe die perseel en geboue deur die jare verval en verwaarloos het nie. En nou dat die seeroog gesloop is – wat onvermydelik was – laat dit tog ’n bietjie heimwee na die plek waar ek my laer- en hoërskoollewe met al die tienervreugdes en soms hartseer beleef het.

Dit was die goeie ou dae toe kinders nog saans onbevrees buite in die straat kon speel.

Sulene Burger (Prins),

E-POS

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article