Die Hoërskool Valsbaai is een van net drie skole in die Kom waar die Nasionale Seniorsertifikaat-eksamen geskryf is en sedert 2018 steeds met ’n 100%-slaagsyfer kan spog.
Al die skool se voltydse en deeltydse leerders het al hul vakke in die eindeksamen geslaag, en vanjaar is die 17de jaar dat voltydse leerders ’n 100%-slaagsyfer oplewer.
Die Valsbaai-matrikulant Mieke-Jade Murray het die eerste plek in haar graad behaal met A’s vir al haar vakke en ’n gemiddelde van 87,9% – Afrikaans Eerste Addisionele Taal (88%), Engels Huistaal (81%), wiskunde (89%), lewensoriëntering (93%), fisiese wetenskap (88%), lewenswetenskappe (88%) en visuele kunste (88%).
Kort op Mieke-Jade se hakke is Eli Finnie in die tweede plek met ’n A vir wiskundige geletterdheid.
Die derde plek is deur Siya Bokwe en Mihlali Mbalo (dieselfde gemiddelde) opgeraap. Hulle het albei ’n A vir Toerisme behaal.
Net een student het nie toelating tot ’n graadkursus, maar wel toelating tot ’n diplomakursus, verwerf.


