Brandbestryders werk hard om die brand langs Hans se Kop in bedwang te bring. FOTO: Incident Management Teams


’n Brand wat oor die naweek buite Grabouw ontstaan het, was so ontoeganklik dat brandweerbeamptes eers vir die vlamme moes wag om “nader” te kom voordat hulle dit kon begin bestry.

Jermaine Carelse, ’n woordvoerder van die Stad Kaapstad se brand- en reddingsdienste, bevestig die brand het Saterdagaand (11 Februarie) omstreeks 23:30 uitgebreek.

“Die Stad het meer as 80 beamptes op die toneel met 11 brandweerwaens, vyf watertenkwaens en drie skid units gehad,” sê Carelse.

Die brand het meestal in die bergagtige gebiede naby die Bizweni Lodge asook die Idiom-wynlandgoed gewoed.

Volgens Reinard Geldenhuys, die Overberg-brandweerhoof, het die Overberg-distriksmunisipaliteit, CapeNature en The Greater Overberg Fire Protection Association hande gevat om seker te maak die beskikbare bronne word optimaal in albei gebiede – Helderberg en Overberg – benut.

Hy het bevestig pogings om die brand te bedwing gaan voort met ondersteuning uit die lug, wat Maandag (13 Februarie) by die poging betrek is. “Ons (Overberg-distriksmunisipaliteit, CapeNature en Die brand woed tans van Knorhoek af tot op Hans se Kop,” het Reinard gesê.

“Die Stad Kaapstad gaan [met water]-bomme op daardie gebied fokus en ons gaan van Hans se Kop en dieper in die Hottentots-Holland-natuurreservaat oorvat.

“Die plan is om dit weg van die Helderberg af te hou.”

Hugo Geldenhuys, ’n woordvoerder van die Theewaterskloof-munisipaliteit, het bevestig nege brandweer-eenhede is Maandag in die oostelike flank van Knorhoek-landgoed ontplooi om die brand onder Hans se Kop te bestry.

“Twee addisionele brandweerspanne van die Macassar-brandweerstasie is ontplooi om die uitgebrande “kop” van die Grabouw-brand te monitor wat gestoot het in die rigting van die N2,” het Hugo gesê.

Reinard het verder verduidelik dat die brand tans ’n bietjie dieper in by Wesselsgat woed en dit het die potensiaal om die spanne vir nog so paar dae besig te hou.

“Daar is nou geen bedreigings tot strukture aan beide kante nie en spanne van die verskeie gebiede dek die verskillende lyne.

“Working on Fire, Volunteer Wildfire Services en Overberg Wildfire se vrywilligers ondersteun vandag van hul kant af. Geen beserings is aan ons kant gerapporteer nie,” het Reinard verder gesê.

Die Stad was nie so gelukkig nie en een besering is aangemeld. “ ’n Brandweerman is beseer in die brand en het aan albei sy hande brandwonde opgedoen,” het Carelse bevestig.

Plaaslike organisasies en inwoners ondersteun brandbestryders

Edwina Hadfield van die Gordonsbaai-inwonersvereniging wat betrokke is by die FireWives-komitee vertel hulle is deur Gordon’s Bay Security (GBSec) van die brand ingelig en gevra om kos en water vir die brandbestryders te versamel.

“Sonder ’n sekonde se huiwering het die FireWives van Gordonsbaai ingespring,” het Hatfield gesê. “Ons eerste oproep was na die eienaar van Mountain View Spar wat ons gehelp het met bestanddele waarmee ons 100 toebroodjies vir die brandbestryders kon maak.”

Daar is toe ’n beroep gedoen op plaaslike inwoners en hulle is ingelig wat hulle kon bydra. Van die begin van die brand tot en met Maandagmiddag is 800 broodjies vir die brandbestryders gemaak nadat Helderbergers hul harte en hande oopgemaak het.

Hatfield het ook Jimmy en Paula Lang van die Gordon’s Bay Lions Club bedank vir die gebruik van die klubhuis, waar produkte afgelaai kon word en waar die 800 toebroodjies gemaak is. “Sonder die ondersteuning van die gemeenskap sou ons nie dit kon doen nie. Ons weet die rampbestuurspanne is baie dankbaar.” Brandbestryder-spanne van die Helderberg en Overberg sal elkeen verseker dat die brand heeltemal geblus is voordat hulle afstaan.

  • In ’n aparte insident, is ’n familie van agt Vrydag (10 Februarie) haweloos gelaat ná hul wonings in Geldenhuys-rylaan in Casablanca deur ’n brand verwoes is.
    Die Stad se brand-en reddingsdienste het 15:34 op die brand gereageer, maar teen dié tyd was dit te laat en vier informele strukture en een huis is erg beskadig. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article