Curtley Hendricks duik diep en hard vir St. Georges in hul openingswedstryd van die Superliga A-seisoen teen Hamiltons op Gustrouw.

Die St. George’s-rugbyklub het in ‘n opwindende en fisieke eersteliga-wedstryd die kragtige

Hamiltons die stryd aangesê, maar uiteindelik 58-15 in Hamiltons se guns vasgeval.

Al het die telling ‘n eenrigtingstryd aangedui, vertel die spel op die veld ‘n ander storie. Teen rustyd was die telling 22-10 ten gunste van die tuisspan, maar die Lulu’s het hulle nie laat onderkry nie en tot diep in die tweede helfte bly baklei.

Die wedstryd is gekenmerk deur harde duikslae, vinnige agterlynbewegings en ‘n wil om te wen.

Die agterlyn van die Lulu’s het besonder goed gevaar en het herhaaldelik gevaarlike aanvalle van stapel gestuur. Die puntemakers vir die Lulu’s was Bradley Williams, Junaid Phillips en Bradley Mentoor, wat elkeen ‘n drie aangeteken het.

Hoewel die eindtelling nie die gees en veglustigheid van die Lulu Boys weerspieël nie, moet baie werk gedoen word. Die skrums en lynstane het gesukkel onder die druk van ‘n ervare Hamiltons-pak, en dit is waarop die afrigtingspan nou sal fokus.

“Ons neem baie positiewe dinge uit hierdie wedstryd,” het Gareth Isaacs, afrigter van die Lulu’s, gesê. “Ons het geleer, ons het gewys ons kan meeding en ons sal sterker terugkom.”

In die naweek se ander Superliga A-wedstryd het die Helderberg-rugbyklub die knie teen Kuilsrivier gebuig. Ná vyf vriendskaplike oorwinnings het Berge Saterdag op Jagtershof vasgeval teen ‘n tuisspan wat heelwat beter verdedig het.

Die telbord het gereeld gerol en die groot verskil ná vier drieë was die stelskopwerk. Berge het sewe punte geskop teenoor Kuila se 11, met ‘n eindtelling van 31-27 in hul guns.

Ander uitslae:

Superliga B: Kylemore 15-20 Macassar;

Superliga C: All Saints 68-31 Busy Bees, Eersterivier 26-24 Strand RFC;

Noordelike-liga: Gordonsbaai Pioneers 10-14 Whistling Wheels, Windmeul United 24-36 Raithby Universals.

Bepalings vir Saterdag 12 April:

SLA: Helderberg teen Valsbaai (Charles Morkel), Van der Stel-Evergreens teen St George’s (Stellenbosch);

SLB: Macassar teen Vineyards (Riverside Park);

SLC: Atlantis teen All Saints (weg), Strand teen Delft (Gustrouw)

Noordelike-liga: GBP teen Albions (Naval Grounds), Raithby teen La Motte (weg), Sir Lowrians teen Whistling Wheels (Sir Lowry’s Pass).

Bradley Williams volspoed op pad om ‘n drie vir St. Georges te druk.
Geluk is ‘n St. George’s-drie – Junaid Phillips (links) en Riyaad Adams. Foto’s: Peter Bee
Riyaad Adams breek weg om ‘n aanval vir St. George’s op te stel.
Curtley Hendricks bevind homself in ‘n penarie terwyl hy probeer om ‘n St Georges-aanval op te stel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article