Nuwe straatligte, wat moontlik vir die Gustrouw-gemeenskap op pad is, gee gemeenskapslede hernude hoop vir ’n samelewing met minder misdaad.
Volgens die Wyk 100-raadslid Sean Stacey sal die Stad Kaapstad se straatlig-projek aan die begin van die 2023-’24-boekjaar in die gemeenskap begin. Dit volg nadat hy die nood vir straatligte in veral Gustrouw raakgesien en met sy verkiesing verlede jaar op beligting in dié Strand-gemeenskap begin fokus het.
“Sonder straatligte kan misdadigers hul aktiwiteite in die donker deurvoer, en só kan dit nie deur inwoners gemonitor en aangemeld word nie. Slagoffers kan nie sien wanneer misdadigers hulle iewers op ’n donker plek inwag nie. Die verbintenis tussen beligting en misdaad is duidelik,” sê Stacey, wat in Mei op ’n raadsvergadering die dringende nood vir addisionele straatligte in Gustrouw uitgelig het.
“Ná besprekings en onderhandelings met die relevante beamptes in die departement van energie is daar bevestig dat hulle hul ondersoek in die beligting-kwessie voltooi het. Hulle het gesê die straatlig-projek sal tussen Julie en September volgende jaar begin.”
Die volgende strate gaan nuwe ligte ontvang: Gustrouw-rylaan, Hassan Khan-rylaan, Pietman Dreyer-rylaan, William Stewart-straat, Johaar Adams-straat, Wilhelmina Schaefer-straat en die doodloop in Fakier Hassiem-straat.
Die straatlig-projek behels ’n hibriede beligtingstelsel met hoëmasligte asook gewone straatligte in die strate waar die beligting van die hoëmasligte nie genoeg lig versprei nie.
“Die hibriede stelsel word om verskeie redes oorweeg, en een daarvan is om geld te bespaar. In ander gebiede het die gemeenskappe eintlik hoëmasligte teenoor tradisionele straatligte verkies juis omdat misdadigers die kabels en gloeilampe steel, en dan werk die straatligte nie. Dis waarom ’n hibriede stelsel beter kan werk.”
Verder bevestig Stacey ook die gloeilampe van die nuwe straatligte sal almal ligdiodes (LED’s) wees.
Niklaas Thysen, ’n woordvoerder van Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), sê die bykomende straatligte vir Gustrouw is ’n stap in die regte rigting.
“Ons as GPF verwelkom die goeie nuus oor die straatligte in Gustrouw.
“Die woongebied loop tans deur onder rooftogte waar inwoners met vuurwapens gedreig en van hul besittings beroof word. Die bykomende beligting, wat in die nabye toekoms opgerig gaan word, sal ’n baie groot verskil in mense se lewe maak en hulle in staat stel om gevaar makliker te sien en dit aan te meld,” sê Thysen.


