Een van die Helderberg-streek se grootste sportsterre is Saterdagaand (12 Februarie) ter ruste gelê.

Talle mense in die gemeenskap en die sportmanne wat saam met hom gespeel en hom geken het, het hul innige meegevoel betuig met die familie van Yunus Thomas.

Hy was by uitstek een van die suksesvolste sportmanne van die Helderberg.

Hy het in krieket vir Hottentots-Holland-krieketklub en in rugby vir die Strand United-rugbyklub uitgeblink.

As 12-jarige seun is hy deur Boeta Noor “Norboy” Karan onder hande geneem, en dis waar sy aggressie met die kolf vandaan gekom het.

Thomas was ’n jong seun wat krieket geëet en gedroom het. Hy was altyd gewillig om die krieketmat te dra met die hulp van Nawawie Rhoda (kaptein) en oorlede Marwaan Karan en Khoesein Salie.

Hulle almal het by Proteas-krieketklub gespeel en was klubkampioen in die junior afdeling. Boeta Noor Karaan het die span sommer op die trein gesit om wedstryde in Kuilsrivier teen Rivertonians-krieketklub te gaan speel.

Thomas het van jongs af altyd die meeste lopies aangeteken. Hy was beslis ’n lopievraat en later het hy by Hottentots-Holland-krieketklub aangesluit met eenwording van klubs onder die WP-krieketraad.

Oorlede Boeta Hoosain “Alfie” Fredericks het hulle verder afgerig asook Boeta Norboy. Thomas het gou tot o.16 in die senior span gevorder en hom as ’n uitmuntende kolwer en bouler gevestig.

Sy veggees om altyd goed te vaar het gesorg dat hy sy plek oop gespeel het in die WP-krieketraad-span.

Hy sluit hom aan by Primrose-krieketklub en vestig hom as staatmaker in die WP-span. Later is hy gekies vir die SA-krieketspan en sou hy sy land kon verteenwoordig het, indien apartheid hom nie verhoed het nie. Hy sou die Strand se eerste nasionale speler wees om die wêreld aan die brand te kon speel – sou die geleentheid hom gegun wees.

Thomas was ’n beginselvaste speler wat geglo het aan die SACOS-kreet “No normal sport in an abnormal society”. Sou Thomas vandag krieket gespeel het, sou hy miljoene in die IPL kon verdien het.

Dit was nie vir sogenaamde spelers van kleur beskore om internasionale krieket te speel nie.

Mense wat hom geken het, sê dis baie hartseer dat Thomas in besonder nie die geleentheid gekry het om in die internasionale arena sy talent ten toon te stel nie. Baie sportmanne in vorige jare, soos sy oupa, oorlede Boeta Rasool Thomas, was ook by uitstek goeie kolwers.

In sy rugbyloopbaan was Thomas ’n uitmuntende vleuel wat sy SA-beker-debuut as 16-jarige speler gemaak het. Hy het die rugby­velde aan die brand geskop met 60- tot 70 m-stelskoppe na die pale.

Eendag het hy met twee lang strafskoppe van meer as 60 m Kwaru van die Oos-Kaap op die Strand gekelder.

Thomas was die soort speler wat baie kort van draad was omdat hy ’n veggees gehad het om altyd te wen en altyd sy beste te gee vir die span. Dit het afgewentel na die ander spelers.

Hy was beslis een van Strand United se mees lojale spelers en het altyd 200% gegee.

Hy en Noor Baderoen was twee vleuels wat die meeste drieë in die gloriejare aangeteken het toe Strand United die klubkompetisie in die Somerset-raad van 1978 tot 1985 oorheers het.

Daar was beslis goeie kompetisie tussen dié twee en hulle is altyd op hul tone gehou deur Ebrahiem Jooste wat vinniger as albei was.

Destyds was daar gesonde kompetisie tussen die bobaasdriedrukkers in die persone van Thomas, Noor en Ebrahiem.

Yunus Thomas gaan beslis deur sy baie vriende oor die hele land heen gemis word. Hy het beslis ’n impak op die krieket- sowel as die rugbyveld gemaak en sal nog lank onthou word.

Hy laat sy vrou, seun en drie dogters asook ses kleinkinders agter. Die gemeenskap sal hom beslis altyd in hul gebede (duahs) onthou.

.
Late on Saturday the Hottentots Holland Cricket Club (HHCC) received the devastating news of the passing of former stalwart, legend and captain of the club Uncle Yunus Thomas, who is also the father of the current first team captain Rasool.

Thomas was a sporting legend in the Strand community and known to the broader Western Cape as having played for Primrose Cricket Club, Western Province and SACB XI. He was a father figure to many of the HHCC players.

The HHCC family would like to express their condolences to the Thomas family.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article