Medelye stroom in vir die familie van die geliefde Gordonsbaaise apteker en -inwoner Dirk du Toit, wat vroeër vandeesweek oorlede is.


Die Helderberg-gemeenskap betreur die verlies van die bekende en geliefde apteker Dirk du Toit, wat die afgelope week oorlede is.

Volgens die provinsiale polisiewoordvoerder AO Joseph Swartbooi doen die Gordonsbaai-polisie ’n geregtelike doodsondersoek nadat die 69-jarige Woensdag (22 November) omstreeks 10:30 dood in sy Gordonsbaai-tuiste aangetref is.

“Die slagoffer is deur nooddienspersoneel op die toneel dood verklaar. Die Gordonsbaai-polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geregistreer,” het Swartbooi gesê.

Du Toit was jare lank eienaar van die Alpha Baykem-apteek, waar ’n geraamde foto van die geliefde sakeman met blomme en ’n brandende kers besoekers by die ingang van die familieonderneming by die winkelsentrum in Faure Marine-rylaan begroet.

“Dit is met groot skok en hartseer dat ons hierdie week skielik moes afskeid neem van ons geliefde pa, eggenoot en oupa, Dirk du Toit,” lui ’n verklaring wat deur die familie saamgestel en aan die media uitgereik is.

“Hy was ’n groot gees met groot drome, wat ’n familie-gemeenskapsapteek in 1996 in Gordonsbaai geopen het. Hy het die laaste 27 jaar hier gepraktiseer. Hy was geliefd deur al die klante asook vriende. Hy het sy klante soos familie behandel – met ’n vrygewige hart en met welwillendheid. Hy was baie bekend in die gemeenskap – veral as ’n baken van lig in donker tye. Sy personeel het na hom opgekyk en op sy mentorskap en leiding staatgemaak.”

Die verklaring het verder gelui die familieonderneming sal voortgaan met Du Toit se kleindogter wat van die nuwe jaar af as voltydse apteker by die apteek sal aansluit.

“Ons wil graag dankie sê vir die oorvloed ondersteuning en gebede deur lojale klante en vriende, wat vir ons soos familie is. Dankie vir jul voortgesette ondersteuning deur hierdie moeilike tyd. Baykem-apteek waardeer julle almal.”

’n Roudiens vir Du Toit word vir eerskomende week beplan. Meer besonderhede sal op die apteek se Facebook-blad gedeel word.

Die verlies van Du Toit het sosialemediaplatforms aan die gons gehad en boodskappe van medelye stroom steeds in.

Die Gordonsbaaise inwoner Jeanette Loring het in ’n Facebook-inskrywing gedeel: “Dit is met diepe hartseer dat ek verneem het van die afsterwe van dierbare Dirk du Toit. Hy was vriendelik, vrygewig en het omgegee – werklik ’n goeie man. Dirk was ’n hoeksteen van die gemeenskap, ’n pa en ’n vertroueling. Sy klante was nie nommers nie; nie ‘profiele’ nie – ons was mense vir wie hy baie omgegee het. O gits, Dirk, ek hoop jy weet hoe geliefd jy was. Ons gaan jou baie mis. Rus in vrede.”

Marguerite Webster deel: “Ek stap al ongeveer 25 jaar al die pad saam met Dirk du Toit, wat my behandel het vir ’n plethora van siektes, en het deel geword het van my bestaan. Kan die wêreld regtig vir Dirk du Toit verloor? ’n Duisend maal nee! Ek twyfel of Dirk geweet het hoe lief mense vir hom was. Hy was Gordonsbaai se gom. Waar jy ook al vlieg, Dirk – sprei jou vlerke. Jy was ’n real mensch. Dankie vir jou omgee; dankie vir absoluut alles wat jy vir hierdie gemeenskap beteken het. Alle sterkte aan sy geliefdes, vriende, sy ‘gemeente’… ons sal jou nooit vergeet nie.”

Sonet Heyns skryf: “Dit is met skok en hartseer dat ons verneem van Dirk du Toit se heengaan. Hy was ’n legende. Vir meer as 20-plus jaar was hy nie net ’n apteker nie, maar ’n vriend, ’n ‘dokter’, ’n mensemens met wie jy jou leed en geluk kon deel. Hy laat ’n groot leemte.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article