Speursersant Peter Mathuloe is vereer vir harde werk wat vrugte afgewerp het. Sy puik ondersoekwerk het verseker dat twee moordenaars aan die pen ry.Foto: Jamey Gordon


’n Grabouwse speurder is vir sy puik ondersoekwerk wat twee moordenaars aan die pen laat ry het, vereer.

Speursersant Peter Mathuloe wat 19 jaar van pligsgetroue diens aan die polisiekantoor gelewer het, is geprys vir sy aandeel aan die gewigtige vonnisoplegging van twee moordbeskuldigdes wat onlangs in die Strand-streekhof gevonnis is.

Selvyn Diergaardt (54), wat twee jaar gelede ’n jong vrou doodgesteek het, is Maandag 29 Augustus op aanklagte van moord skuldig bevind en gevonnis. Diergaardt is altesaam 15 jaar tronkstraf waarvan drie jaar vir vyf jaar opgeskort is, opgelê.

Die vonnisoplegging volg nadat Diergaardt in hegtenis geneem is vir die moord op die 31-jarige Clementine Smith wat Saterdag 4 Junie 2020 op ’n plaas in die Elgin-gebied dood is. Die slagoffer het in die mesaanval noodlottige steekwonde opgedoen.

In nog ’n moordsaak het reg geskied toe die moordenaar Robbie Daniels (33) gevonnis is. Daniels se vonnisoplegging het gevolg nadat hy as verdagte aangekeer is vir die moord op Louis van Wyk wat Woensdag 7 Julie verlede jaar in ’n roof in Pineview doodgesteek is.

Die 39-jarige is met ’n steekwond aan die nek in ’n oop veld in Bosstraat in die dorp aangetref. Hy is in ’n ernstige toestand na die hospitaal vervoer waar hy later aan sy wonde beswyk het. Daniels is Woensdag 7 September in die plaaslike hof skuldig bevind aan die mesmoord en is altesaam 22 jaar gevangenisstraf – 20 jaar tronkstraf op die moordaanklagte en 12 jaar vir roof – opgelê. Hy sal 10 jaar van die tronkstraf op die moordaanklag saam met die 12 jaar van die roof-vonnis uitdien.

Die polisie het Mathuloe bedank vir sy ekstra tyd en moeite om ’n skuldigbevinding in albei moordsake te verseker, asook sy voorbeeldige bereidwilligheid en deursettingsvermoë wat hom sukses besorg het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article