Die toneel waar die noodlottige brand die lewe van twee boeties geëis het. Die voorval het in ’n informele nedersetting naby die Grabouw-waterwerke uitgebreek. Die kinders se ma is later op twee aanklagte van moord in hegtenis geneem.Foto: Jamey Gordon


’n Ma van Grabouw is agter tralies nadat haar twee kinders in ’n brand by hul tuiste dood is.

Die voorval het verlede Donderdagnag (17 November) plaasgevind en twee seuntjies, ’n peuter en ’n kleuter, is in die vlammehel dood.

Die 35-jarige ma is kort ná die voorval op twee aanklagte van moord in hegtenis geneem nadat owerhede wat na die brandtoneel ontbied is, die brandende hokkie met die kinders agter ’n geslote deur aangetref het. Die sibbe is later geïdentifiseer as die vyfjarige Melokuhle en driejarige Lolwethu Mbalekwa.

Volgens Reinard Geldenhuys, die Overberg-brandweerhoof, is brandweerspanne ná ’n noodoproep om 23:55 verlede Donderdag na die toneel in die omgewing van die plaaslike waterwerke ontplooi.

“Drie brandweervoertuie is om 00:03 van die Grabouw-brandweerstasie af uitgestuur en brandbestryders het om 00:08 op die toneel aangekom. Met hul aankoms was een struktuur aan die brand, wat heeltemal verwoes is. Nadat die vlamme geblus is, is die twee kinderlyke in die rommel gekry,” sê Geldenhuys. “Die oorsaak van die brand is onbekend. Die polisie ondersoek die voorval.”

Volgens ’n mediaverklaring, wat verlede Vrydag (18 November) deur die provinsiale mediakantoor uitgereik is, het die Grabouw-polisie dié oggend die oorledenes se ma in hegtenis geneem nadat ooggetuieverklarings verkry is en sy met die voorval verbind is.

“Die 35-jarige vrou van Grabouw is in polisieaanhouding nadat sy Vrydagoggend op aanklag van moord in hegtenis geneem is. Die inhegtenisneming hou verband met ’n brand waarheen die polisie Vrydag in die vroeë oggendure ontbied is. Met hul aankoms in die informele nedersetting in die waterwerke-gebied het hulle ’n hokkie, wat gesluit en reeds aan die brand was, ontdek. Tydens die inspeksie van die toneel is die verkoolde liggame van twee seuntjies – drie en vyf jaar oud – gevind,” lui die polisieverslag.

Die verdagte het Vrydag en weer Maandag (21 November) vlugtig in die Grabouw-landdroshof verskyn. Die saak is Maandag tot Donderdag 19 Januarie uitgestel en die beskuldigde bly in aanhouding in die Pollsmoor-gevangenis totdat sy weer in die hof moet verskyn.

Die beskuldigde se ma, Ntombizonke Nodada (52), en ’n buurvrou, Gcobisa Blandile (47), wat Maandag met haar hofverskyning by die Grabouw-polisiekantoor aangemeld het, het herhaaldelik aan DistriksPos en Helderberg Gazette gesê “ons is nie oukei ná die voorval nie”. Hulle het verder gesê hulle sukkel met begrafnisreëlings en finansiering ná die tragedie wat die twee geliefde sibbe geëis het.

Blandile, wat langsaan die beskuldigde woon, het vertel sy het wakker geword en haar onmiddellik na buite gehaas, waar sy in ongeloof, verwarring en skok toegekyk het hoe die hokkie ten spyte van pogings om die vlammehel te blus, tot op die grond afbrand. Hoewel haar woning nie ook in puin gelê is nie, het dit wel waterskade opgedoen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article