Een van Secure Rite se beamptes, wat lid is van die maatskappy se misdaadvoorkomingseenheid, het die jeug op motorfietsritte in die omgewing geneem. Foto: Rick Marais


Die Strand-polisie se gemeenskapspolisiëringsfo­rum (GPF) het verlede Donderdag (30 Junie) ’n jeugloopbaan-ekspo aangebied.

Altesaam 250 jeugdiges tussen agt en 16 jaar oud het van Rusthof, Erijaville, Allan Boesak en Morkel Cottage gekom om die geleentheid op die Abattoir-sportterrein te geniet.

Volgens Niklaas Thysen, ’n woordvoerder van die Strand-GPF, het rolspelers wat die plaaslike polisie, lede van die K9-eenheid, metropolisie, wetstoepassers, verkeersbeamptes en verskeie veiligheidsmaatskappye asook Chrysalis Academy ingesluit het, die jongelinge oor loopbaankeuses in die veiligheidsbedryf kom mentor.

“Die jeugloopbaan-ekspo was uiters suksesvol. Die kinders is die geleentheid gebied om interaksie te hê met verskeie verteenwoordigers in die twee beroepsvelde, waaronder die openbare-orde-polisie-eenheid (Pops),” voeg hy by.

Brendyn Alloys, die Strand-GPF se sekretaris, sê Strand is tans ’n bendegeteisterde woongebied met talle uitdagings, waaronder bendeverwante misdade wat jong seuns en manne betrek die ergste is.

“Daarom het die GPF besluit om die mentorskap en beroep-uitstalling gedurende Jeugmaand te reël om kinders en jongmense bewus te maak van die beroepsgeleenthede in die veiligheidsektor in die regering en in die private sektor,” sê Alloys.

Die program het ook daarop gefokus om die jongelinge te ontmoedig om by misdaad betrokke te raak.

“Die was ’n historiese geleentheid wat ’n enorme en besonderse impak op alle teenwoordiges gemaak het.

“Ons het die saadjies in harte gesaai, wat hulle beywer om in hulself te glo en hul drome na te streef,” voeg Alloys by.

Kolonel Khunjulwa Khanyila, stasiebevelvoerder van die Strand-polisie, sê die jeug het baie genot uit die dag se verrigtinge geput.

“Daar was iets van alles – van hondevertonings tot ’n klomp stalletjies vir die jongmense. Kos is ook verskaf.

“Dit was ’n goeie ekspo vir ons jeug, want hulle word nie op ’n daaglikse basis aan die veiligheids- en polisiewêreld blootgestel nie.”

Volgens Thysen beplan die GPF om die program na ander gemeenskappe in sektor 1 uit te brei.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article