Twee verdagtes, wat ’n jongman na bewering op Sondag 27 Maart met ’n mes doodgesteek het, se borgtogaansoek is tot Maandag 25 April uitgestel.
Shakier Losper (22) is op sy begrafnis deur familie en vriende beskryf as “ ’n man met ’n goue hart” (“Laaste eerbetoon vir Shakier’,” DistriksPos, 14 April).
Gwendoline, Shakier se ma, wat Donderdag 14 April die beskuldigdes net vlugtig by hul eerste verskyning voor die hof gesien het, sê dit het net haar wonde verder oopgekrap. “Dis wonde wat nie genees kan word nie. Ek voel soos ’n wrak met ’n seer hart,” sê sy.
Losper is op die noodlottige dag in Fredericksstraat met ’n mes gesteek. Hy is by sy aankoms by die Helderberg-hospitaal dood verklaar.
’n Broer en suster is weens die moord in hegtenis geneem.
Niklaas Thysen, woordvoerder van die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het bevestig hulle gaan die borgtogaansoek van die twee verdagtes teenstaan.
“Ons staan die borgtogaansoek van die twee verdagtes teen. Ons wil ook die ondersoekbeampte vra om ook borgtog van sy kant af te weier. Die staat moet die borgtog teenstaan, want dis ’n baie ernstige misdryf – iemand se lewe is geneem,” sê Thysen.
Hy sê die Strand-GPF stel ’n petisie op en beplan om Maandag voor die hof betoog. – Rick Marais


