Die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) is weer in volle gang met ’n hernude fokus op misdaadbekamping wat ’n voorgestelde veiligheidsplan vir die hele Strand insluit.
Die Strand-GPF het verlede Donderdag (26 Januarie) sy eerste vergadering van die jaar by die Ministry of Grace International-kerk gehou en die geleentheid aangegryp om misdaadvoorkomingsinisiatiewe te bespreek, te beplan en te bewerkstellig.
“Ons moes bymekaar kom om te besluit hoe ons misdaad in Sektor 3 en die breër Strand-gemeenskap gaan aanpak. Benewens toenemende bendegeweld en roofaanvalle, gaan ons Strand-gemeenskappe ook gebuk onder kontak-misdrywe,” sê Niklaas Thysen, ’n woordvoerder van Strand-GPF.
Die vergadering is voorafgegaan deur nog ’n belangrike byeenkoms wat die GPF verlede Maandag (23 Januarie) by Rusthof Sekondêr saamgeroep het nadat die toenemende misdaad by dié hoërskool in Strand weer eens in die kollig gekom het.
Lede van die Strand-GPF het rondom middagete saam met die skool se bestuurslede en beheerliggaam en Francina Lukas, voorsitter van die GPF se provinsiale raad, aan tafel gesit om veiligheidskwessies te bespreek en moontlike oplossings te vind.
Kol. Khunjulwa Khanyile, die Strand-polisiekantoor se bevelvoerder, het ook die vergadering bygewoon om te kyk hoe die polisie ’n bydrae kan lewer om veiligheid by die skool te bevorder en misdrywe te takel.
“Ons moes met ’n plan vorendag kom wat die veiligheid van die leerders sal verseker. Ons wou seker maak dat Rusthof Sekondêr reg is vir die jaar, want verlede jaar was daar ’n paar gevalle wat die veiligheid van leerders bedreig het,” sê Lucas.
In die een geval is ’n leerder met ’n mes gesteek en in die ander geval is ’n paar leerders aangerand.
Sy vertel dat die skoolhoof toe vir hulle voorgelê het wat die skool se huidige bekommernisse rondom veiligheid is.
Sy sê verder dat van die oplossings inligtingsessies insluit wat daarop gemik is om die gevare van alkohol- en dwelmmisbruik en wat dit aan ’n mens doen, uit te lig. Lucas verduidelik die voorstel is belangrik, want Rusthof is ’n agtergeblewe gemeenskap wat ook geteister word deur alkohol- en dwelmmisbruik asook gesinsgeweld.
“Die skollie-element en die feit dat leerders op skoolterreine beroof word, asook algemene geweld, is van die groter probleme wat aandag moet kry,” sê Lucas.
“Ons wil ook mense kry uit die gemeenskap wat ’n sukses van hul lewe gemaak het en dan wil ons vir die leerders wys dat dit moontlik is om ’n sukses van jou eie lewe te maak, as jy hard genoeg werk,” voeg sy by.
Wyk 100-raadslid Sean Stacey was ook teenwoordig en meen die misdaadbekamping-aksie en veiligheidsplan laat dit voel of dit die begin is van iets produktiefs. Sy voorstel was om ’n vrywilliger-ouer by die hek te kry om deel te vorm van die beveiligingsprogram juis omdat misdaad en anti-sosiale gedrag van leerders by die huis ontstaan.
Volgens hom het buurtwagte ook beloof om te probeer om ’n vrywilliger daar te stasioneer om uit te help, soos wanneer leerders na die toilet toe loop.
AO Nico Beukes, die Strand-polisie se woordvoerder wat ook optree as ’n veiliger-skole-koördineerder, is verantwoordelik vir maatskaplike misdaadvoorkoming. Hy vertel die polisie moet nog ’n veiligheidsplan opstel. “Intussen gaan ons die polisie se sigbaarheid by die skool verhoog deur meer gereelde patrollies te voet en per voertuig. Ons gaan ook lukraak die leerders deursoek vir dwelms en wapens,” sê Beukes.
Hy beloof verder die polisie gaan met die buurtwagte, sekuriteitsmaatskappye en ander wetstoepassingsorganisasies saamwerk om seker te maak dat Rusthof Sekondêr veiliger is vir leerders asook onderwysers.
Volgens Thysen is ’n veiligheidsplan vir die hele Strand ook op die GPF se vergadering verlede Donderdag uitgewerk.
“Ons gaan hande vat met die provinsiale departement van gemeenskaps veiligheid en ons gaan ’n werksessie saam met hulle bywoon hierdie Saterdag (4 Februarie). Ons wil kyk hoe ons die veiligheidsplan kan implementeer en hoe ons ’n sukses daarvan gaan maak.”
Thysen sê ná die werksessie gaan die Strand-GPF verskeie gemeenskapsvergaderings hou om die veiligheidsplan aan die gemeenskappe bekend te stel en om hul insae te kry oor hoe om al die soorte misdaad te beveg.
“Dié jaar gaan daar geen eensydigheid meer wees nie. Ons (die Strand-GPF) gaan as een saam met die polisie werk om al die misdaadverwante probleme te takel.”
Thysen voeg by dat verskeie projekte ook op ’n maand-tot-maand-basis deur die GPF aangepak gaan word.
“Ons mikpunt die jaar is om as een, as ’n geheel, saam misdaad te beveg en om ons sektor ’n veiliger plek te maak vir almal,” sê hy.


