Die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het sy bekommernis uitgespreek nadat nog ’n man in ’n skietvoorval gewond is.
Gelukkig het Shamiem Bailey die skietvoorval wat Vrydag 15 Julie in Libertystraat gebeur het, oorleef (“Slagoffer beter,” Distrikspos & Helderberg Gazette, 20 Julie). Die 44-jarige slagoffer sterk tans in die hospitaal aan.
Niklaas Thysen, ’n woordvoerder van die Strand-GPF, sê die GPF is bekommerd oor die skiet- en steekvoorvalle wat die afgelope paar maande Strand se gemeenskap teister. “Ons eerste fokuspunt is om vas te stel wat die faktore is wat tot die hoë misdaadsyfers in sektors een en twee bydra.”
Volgens hom is die oplossing om sigbaarheid te verhoog in die areas wat onder bendegeweld en rooftogte gebuk gaan. “Ons gaan die misdaadpatrone moet begin volg en ons gaan moet verseker dat ons deursigtig is en aanspreeklik gehou word vir die diens wat ons aan hierdie gemeenskap lewer.”
Hy noem ook onwettige vuurwapens binne die onderskeie gemeenskappe lei tot toenemende misdaad, en “dis iets wat aandag moet kry”.
“Ons wil ook die onwettige sjebiens takel, want dis ook iets wat tot gewelddadige en huishoudelike misdaadvoorvalle lei.”
Thysen sê die GPF werk aan ’n werwingsveldtog aangesien hy meer gemeenskapsvrywilligers wil aanmoedig om by die onderskeie buurtwagte aan te sluit. “Ons sal nie toelaat dat die wetteloosheid van misdadigers die werk van die GPF, polisie en buurtwagte keer om ’n veiliger gemeenskap te bou nie.”



