Die twee verdagtes wat in verband met die grumoord op Strand-tiener Byron Gouws gearresteer is, is albei vrygelaat op borgtog.
Die moordbeskuldigdes, Damian Morris (23) en Walter September (26) het Maandag (22 Augustus) in die Strand-landdroshof voorgekom en is tydens die hofverskyning borgtog toegestaan. Morris is op R2 000 borgtog vrygelaat terwyl September R1 000 moes opdok.
Gouws se bedroefde pa, Ashford het sy skok oor die uitkoms uitgespreek veral nadat 1 100 gemeenskapslede ’n petisie geteken het in teenstanding van die moordbeskuldigdes se borg. “Ek het ontplof toe ek hoor my seun se vermeende moordenaars kry borgtog en is uit op vrye voet. Dit nadat hulle my seun koelbloedig vermoor het en daarna sy liggaam van die moordtoneel verwyder en op ’n ander plek gestort het. Dis belaglik. Hoe is dit moontlik dat hulle borg kry?” het ’n verstaanbaar ontevrede Gouws gevra.
Die ouer het voorverlede week aan DistriksPos & Helderberg Gazette sy hart oopgemaak en vertel hoe hy met sy selfoon-liggie op sy 17-jarige seun se lewelose liggaam afgekom het (“Pa kry self sy tienerseun se lyk,” Woensdag 10 Augustus).
Byron se lyk is Sondag 31 Julie in Broadlandspark aangetref (“Twee tienerseuns afgemaai,” DistriksPos & Helderberg Gazette, Woensdag 3 Augustus). Dit nadat die tienerslagoffer na bewering deur twee mans met ’n byl en ’n mes aangeval en sy lyk is op ’n ander plek gestort is.
Zorah Motasi, ’n Strand-gemeenskapsaktivis en voorsitter van die Vroue in Aksie-beweging, het ook meegedeel dat sy steier onder absolute skok oor die nuus. “Ek werk baie saam met die Strand-magistraatshof en wil nie my verhouding beskadig met hulle nie, maar ek wil op rekord gaan en vertel dat ek nie saamstem met hul besluit nie,” het sy gesê.
Sy het voorts vertel dat gemoedere hoog loop in die gemeenskap. “Die gemeenskap voel dat daar ’n Dawid is vir elke Goliat. En die gemeenskap sien hulself as Dawid wat onderdruk word en sy stem moet dikmaak. Die gemeenskap is baie kwaad,” het Motasi aangevoer.
Niklaas Thysen, Strand Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het ook hul gesamentlike ongelukkigheid oor die hof se besluit uitgespreek.
“Die twee vermeende moordenaars se borg is deur die hof bekragtig na die staat hul vertoë gerig het en die ernstigheid van die misdaad uitgewys het. Die GPF gaan verdere navrae rig aan die hooflanddros oor waarom die verdagtes so vinnig borg gekry het ná hulle ’n skedule 6 misdaad gepleeg het,” het Thysen gesê.
Verder raak die seer nie minder nie, het Gouws vertel.
“Ons mis hom baie en ons is nie gelukkig oor die borgtog nie maar ons kan nie die saak belemmer nie en hoop dat die gereg sy gang loop en dat die verdagtes die regte vonnis opgelê word,” het hy gesê.
“Hulle sê dat die verdagtes nie ’n gevaar vir die gemeenskap is nie, maar hoekom wou gemeenskapslede dan die verdagtes se huise afbrand?” vra Gouws.
- Die Gouws-moordsaak is uitgestel tot Donderdag 27 Oktober wanneer dit weer in die hof draai.



