Die twee vermeende moordenaars van 17-jarige Byron Gouws van Broadlandspark het op Maandag 24 April vlugtig in die Strand-landdroshof verskyn voor die saak oorgeplaas is na die streekshof.
Gouws se pa, Ashford het laasjaar met sy selfoon-liggie op sy tienerseun se lewelose liggaam afgekom (“Pa kry self sy tienerseun se lyk,” DistriksPos & Helderberg Gazette, Woensdag 10 Augustus).
Die tiener se lyk is Sondag 31 Julie in Broadlandspark aangetref nadat hy na bewering elders deur twee mans met ’n byl en ’n mes aangeval is. Sy lyk is op ’n ander plek as wat hy aangeval is, gestort.
Ashford het onlangs vertel dat dit frustrerend is dat die moordsaak die heeltyd uitgestel word.
Die twee beskuldigdes, Damian Morris (23) en Walter September (26), is kort ná die tragedie op aanklagte van moord aangekeer. Die beskuldigdes het hul eerste formele borgtogaansoek Woensdag 10 Augustus verlede gedoen en is kort daarna op borgtog vrygelaat.
“Hulle (die beskuldigdes) het albei vlugtig in die hof verskyn voor die saak weer uitgestel is. Dis nou oorgeskuif na Strand se streekshof juis omdat dit ’n hoëprofielsaak is,” sê Gouws.
Hy vertel daar is ’n groot leemte agtergelaat ná die dood van Byron en hy voeg by dat die verlange na sy seun waarvoor hy gelewe het steeds daar is.
Morris en September sal na verwagting weer op Woensdag 7 Junie in die Strand-streekshof verskyn.



