’n Matriekafskeid is vir meisies ’n groot storie, want dis dié dag (naas haar troudag) wanneer sy soos ’n prinses kan lyk.
Die droom kan egter vinnig in ’n nagmerrie ontaard as die skool die meisie toegang tot haar matriekafskeid weier – omdat haar skoolgeld nie betaal is nie.
Dié donker realiteit het ’n matriekleerder van Hoërskool Gordon op Dinsdag 6 Desember in die gesig gestaar toe sy toegang tot haar matriek-bal geweier is – en dit nadat sy ’n rok gekry en vervoer tot by die bal gereël het. Die leerder en haar ouers het verkies om nie hul name te laat noem nie uit vrees vir viktimisering. Haar skoolgeld is wel agterstallig, erken hulle, maar sy is glo deur die skool toegang tot die matriekafskeid geweier.
Die matriekulant se ma het kommentaar van die hand gewys, maar ’n anonieme weldoener, wat geld geskenk het om die leerder se matriekafskeid moontlik te maak, het sy stem dik gemaak.
“Die gemeenskap stuur hul kinders na die matriekafskeid toe, en dan gebeur dit. Dit is belangrik om te onthou dat die kind se ouers verantwoordelik is vir die skoolfonds en nie die kind (leerder) self nie. Deur die leerder te straf omdat haar ouers nie die skoolfonds kan betaal nie, is nie net onregverdig nie, maar dit skep ’n gevaarlike presedent wat kan lei tot ander vorms van diskriminasie en vooroordeel teen studente op grond van hul gesin se finansiële omstandighede.”
Hy brei verder uit so iets kan ’n leerder skaad en deur op hierdie manier van ’n matriekafskeid uitgesluit te word, kan dit só ’n leerder se geestesgesondheid beïnvloed. “Die uitsluiting van leerders by skoolgeleenthede op grond van uitstaande geld beïnvloed die fundamentele beginsels van onderwys. ’n Skool bestaan ??om geleenthede aan alle leerders te bied en deur hierdie geleenthede vir sommige studente op grond van hul finansiële omstandighede te ontsê, misluk ’n skool in sy missie,” sê die anonieme weldoener.
Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die provinsiale onderwysdepartement, sê die skool ontken die bewerings. “Hulle (Hoërskool Gordon) meld dat geen sodanige uitsluiting gemaak is as gevolg van die nie-betaling van skoolfonds nie. Geen bewyse is tot dusver gelewer om hierdie bewerings te staaf nie,” sê Hammond.
Lizette Visser, skoolhoof by die Hoërskool Gordon, het bevestig dat die skool se beheerliggaam wel die ouers gevra het om hul kinders se skoolfonds te betaal voordat hulle ’n kaartjie vir die matriekafskeid kon koop. “Baie ouers het die skool gekontak omdat hulle nie die uitstaande bedrae kon betaal nie. Die mense in beheer van die skool se beurs het toe met die ouers kontak gemaak om reëlings te tref. Sommige ouers het aansoek gedoen om vrystelling van skoolgeld; ander het reëlings getref. Alle leerders wie se ouers die skool gekontak het, het die matriekafskeid bygewoon,” het Visser gesê.


