Die waaghalsige bejaarde avonturier Billie du Preez het vir die derde agtereenvolgende jaar daarin geslaag om ’n adrenalienbelaaide uitdaging baas te raak. Dié Gordonsbaaise pensioentrekker het vir sy verjaardag vanjaar die wêreld se langste sweefspoor by K3 SA Forest Adventures in Caledon aangepak.Foto:


Die Helderberg se “bang-vir-niks bejaarde”, Billie du Preez, het nog ’n lewensjaar met ’n ongeëwenaarde avontuur verwelkom.

Dié pensioentrekker van Gordonsbaai het sy 91ste verjaardag gevier deur die wêreld se langste sweefspoor aan te durf en die uitdaging baas te raak.

Hierdie ongewone waaghals wat dit sy missie maak om te bewys dat ’n mens net so oud is soos jy voel deur elke jaar op sy verjaardag ’n onvergeetlike ervaring op sy emmerskoplysie af te merk, het teen meer as 100 km/h met die K3-sweefspoor in Caledon afgegly.

“Met die wegtrek is jy naby die grond. Dan kan jy sien hoe vinnig jy beweeg. Daarna gaan jy oor die rotse en dan is jy skielik baie hoog bokant die grond. So die eerste stuk was baie opwindend. Die moeilikste deel was die laaste 100 m wat jy opdraand moet loop na die wegspringplek toe. Dit was baie steil en die ware uitdaging,” vertel die hupse bejaarde.

Hoewel die avonturier sy mees onlangse uitdaging met pure genot baasgeraak het, meen die ou kalant wat graag op die “rand van gevaar” lewe, die valskermsprong op sy 90ste verjaardag het vir meer opwinding gesorg (“Oupa vier 90 j. met valskerm,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 17 Januarie 2024).

Die koerant het ook in die opwinding van Billie se 89ste verjaardag gedeel, wat hy, in plaas van ’n partytjie met ’n stukkie koek en ’n koppie boeretroos, saam met familie en vriende met ’n uitstappie na Elgin gevier het, waar hy op die foefieslaaid gegly het (“Hupse oupagrootjie gly alte lekker,” 25 Januarie 2023).

“Die valskermsprong was ’n adrenalienbelaaide ervaring omdat ’n mens die wind verby jou ore kon hoor waai en dit op jou gesig kon voel. Met die zipline is jy egter in ’n kokon met ’n valhelm en ’n bril, wat beteken dat jy nie baie van die omringende geluide hoor nie, behalwe die gezoem van die kabel, en jy ervaar ook nie regtig die wind nie.

“Tog was dit lekker om die wêreld van bo af te sien,” sê Billie.

“Hulle het ’n baie deeglike poging aangewend om seker te maak dat jy veilig vasgegordel is, met al die veiligheidsmaatreëls wat in plek gestel is. Die eerste twee mense wat gegly het, ek en ’n ander jong outjie, was ongeveer dieselfde gewig, waarna hulle die kabel aangepas het vir die swaarder persone. Vir ekstra veiligheid en windweerstand maak hulle jou bene en voete in ’n reguit lyn vas.

“Almal was regtig vriendelik en behulpsaam. Hulle het ’n video en foto’s as ’n geskenk aan my gegee, asook ’n groot muffin en ’n koppie koffie.”

Gevra hoe sy familie en vriende gereageer toe hulle hoor van sy planne vir die sweefspoor-avontuur, het Billie trots gesê: “My kinders was beïndruk, want hulle het gewonder wat ná verlede jaar se valskermsprong kom.”

Volgens sy dogter, Susan Potgieter, bewonder selfs sy vriende sy avonture. “Hulle sien hierdie K3-ervaring as ’n mylpaal wat hy bereik het – die langste zipline in die wêreld en die oudste persoon om dit te aan te pak,” voeg sy by.

Billie se raad aan ander ouer volwassenes wat dalk ook sulke avontuurlustige aktiwiteite wil aanpak, is: “Moenie uitstel nie. Jy moét dit doen, want jy weet nie of jy dit môre nog sal kan doen nie.”

Billie se lewensleuse is om aktief te bly en ander waar moontlik te help. Hy bestuur steeds sy eie voertuig en sien om na sy finansies en aandele, en sy uitgebreide familie dink die wêreld van hom.

Hy is in Riebeeck-Wes as een van vier kinders gebore en het 40 jaar aan ’n groot maatskappy gewy. Ná sy aftrede in 1993 het hy en sy vrou baie gereis en was hulle betrokke by verskeie organisasies en klubs.

Nou, om sy fiksheid en gesondheid in stand te hou om sulke uitdagende aktiwiteite aan te pak, stap hy gereeld en geniet ’n rooiwyntjie.

“Dis lekker om hier op die strand te gaan stap. As dit te warm is daarvoor, stap ek sommer so vir ’n kwartier om die huis.”

Op die vraag hoe hy sy 92ste verjaardag gaan vier, verklap Billie: “Ek het lus om ’n tandem-paragliding by Sir Lowryspas te doen. Hoewel my vriende voorgestel het dat ek haaiduik en witwater-rafting probeer, is ek nie daarin geïnteresseerd nie.”

Billie word vasgegordel vir die groot ervaring.Foto:

Slaggereed vir die sweefspoor!Foto:

Die waaghals (middel) en sy ondersteunende familielede, Johan (skoonseun) en Alet Ackerman (dogter), Hildred Ferreira (dogter), Susan Potgieter (dogter), Drecia Snyman (vriendin) en Bram Potgieter (skoonseun). Foto:

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article