Die dramadepartement van die Universiteit Stellenbosch bied van Saterdag 28 Februarie tot Saterdag 7 Maart Louis Emmitt-Stern se bekroonde toneelstuk, F*k jou in my spaceship, in ‘n nuwe Afrikaanse vertaling deur André Gerber aan, wat die ook regie van die teaterproduksie behartig.
Die teks is in 2023 vir die eerste keer by die VAULT-fees in Londen opgevoer, waar dit as beste nuwe produksie bekroon is. Daarna het die stuk na die Soho Theatre geskuif en voor uitverkoopte gehore gespeel.
In die stuk nooi twee paartjies – albei op soek na verandering en vernuwing binne hul verhoudings – ‘n derde persoon hul intieme wêreld binne. Leo en Dan probeer hul fantasieë met ‘n aantreklike ingenieurstudent uitleef (‘n alien-kostuum ingesluit), terwyl Anna en Emily vir Robert nader om sperm te skenk sodat hulle ‘n kind kan hê.
In albei gevalle word die grense van liefde, aanvaarding, intimiteit en vertroue onverbiddelik getoets.
Die bekroonde produksie beleef nou sy Suid-Afrikaanse première. Die stuk ondersoek hoe ‘n jonger generasie binne nie-tradisionele verhoudings die kompleksiteite van kontemporêre normeverskuiwings navigeer: Wat gebeur wanneer jy onverwags op iemand anders verlief raak? En op watter maniere vernietig ons mekaar – dikwels sonder om dit te bedoel?
Gerber beskryf die stuk as “ontwrigtend, snaaks en diep menslik”. “Dit vra eerlike vrae oor intimiteit, begeerte en die broosheid van moderne verhoudings,” verduidelik hy. F*k jou in my spaceship is op die verhoog van die Adam Small-ouditorium te sien. Die produksie is nie geskik vir onder 13’s nie.
Kaartjies, teen R110 elk, kan aanlyn deur Quicket gekoop word.



