Geweld breek uit in Macassar: inwoners verbrand bande, ambulans bestook

Beskadigde voorruit van ambulans na klipgooiery-aanval op N2
‘n Klip is deur die voorruit van die EMS-ambulans gegooi.

Geweld het die naweek in Macassar uitgebreek toe inwoners bande verbrand en ‘n ambulans onder die klippe gesteek het.

Die eerste voorval was die afgelope Vrydag (13 Maart) toe die gemeenskap van Riverside weens kragonderbrekings bande in Bind- en Ringlaan aan die brand gesteek het. Inwoners beweer hulle het vier dae sonder krag gesit.

Volgens polisieverslae is ‘n saak van openbare geweld en openbare onrus omstreeks 17:30 by die Macassar-polisiekantoor aangemeld ná vandalisme by die plaaslike biblioteek. Die polisie se eenheid vir openbare orde is ontbied om die situasie te beheer, maar niemand is in hegtenis geneem nie.

Kyle Cookson, ‘n Eskom-woordvoerder, het bevestig die elektrisiteitstoevoer na die Riverside-gemeenskap is Saterdag herstel. “Eskom verstaan die frustrasie van die betrokke kliënte ten volle en vra om verskoning vir die ongerief,” het Cookson gesê.

Hy het verduidelik die kragonderbrekings was weens ‘n fout wat veroorsaak het dat die gemeenskap vir lank sonder krag gelaat is. “Die fout het bykomende hulpbronne vereis en saam met ‘n agterstand van foute wat Eskom in die Kaapse metropool ervaar, het die elektrisiteits herstel na Riverside ‘n paar vertragings ondervind,” het Cookson bygevoeg.

Die geweld was egter nie verby nie. Sondagoggend vroeg (15 Maart) is ‘n Wes-Kaapse nooddienste-ambulans (EMS) op die N2-snelweg in Macassar met klippe bestook terwyl dit ‘n pasiënt vervoer het. Volgens die polisie het die voorval omstreeks 00:30 plaasgevind toe die ambulans net ná ‘n vulstasie op die snelweg na Kaapstad aangeval is. Die klip het op die enjinkap beland en deur die voorruit gebars, maar niemand is beseer nie.

Die Wes-Kaapse departement gesondheid en welstand het bevestig die pasiënt en personeel is veilig, maar die nooddienstepersoneel is getraumatiseer en het mediese evaluering vereis.

“Die departement veroordeel die aanval op ‘n EMS-ambulans op die N2 ten sterkste,” het die departement gesê.

Die departement het bygevoeg dat omvattende geestesgesondheids- en trauma-ondersteuning vir EMS-personeel aangebied is.

Die provinsiale minister van gesondheid, Mireille Winger, het die noodsaaklikheid van die beskerming van gesondheidswerkers en nooddienste beklemtoon: “Aanvalle op gesondheidswerkers en noodvoertuie is heeltemal onaanvaarbaar en plaas lewens in gevaar.”

Die Macassar-polisie ondersoek tans beide voorvalle – openbare geweld ná die betoging en kwaadwillige saakbeskadiging ná die ambulansaanval.

Gekategoriseer:

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article