Die Somerset-Wes-gesin wat verlede maand hul kosbare tuiste weens ’n verwoestende brand verloor het, benodig die gemeenskap se hulp.
Anthea October en haar huisgesin ly die yslike verlies van hul erfenisryke woning wat Donderdag 21 April kort ná middernag by Kerkstraat 16 in ’n vlammehel afgebrand het (“Historiese woning vernietig,” DistriksPos, 28 April). Die voorval het die 54-jarige ma van twee en gr. R-onderwyseres, haar 87-jarige pa, Herman Titus, haar 59-jarige broer, Marius Titus, haar 21-jarige dogter, Althea, en haar kêrel, Ryan van Deventer, haweloos gelaat.
Die bejaarde familie-patriarg wat tydens die voorval in die brandende huis vasgekeer is, is danksy die reddingspogings van twee dapper plaaslike brandbestryders van ’n vlammedood gered.
October het vandeesweek bevestig dat haar bejaarde pa wat met erge brandwonde aan sy rug en arms gehospitaliseer is en heel waarskynlik ’n veloorplanting sal moet ondergaan, in ’n plaaslike tehuis herstel.
“Ons is dankbaar vir al die skenkings van basiese benodigdhede insluitend klere, beddegoed, komberse en kos. Maar ons het geen heenkome nie en vra nederig vir enigiemand wat in staat is om ons te help met donasies om ’n tydelike woonplek te bekom of boumateriaal om een op te rig,” het ’n emosionele October gepleit.
Die huisgesin se woning wat op die sendingterrein in die gemeenskap geleë was, is heeltemal binne vernietig, en volgens October, ook nie verseker nie. Die brandslagoffers woon tans by ’n mede-inwoner van Kerkstraat en die ma van Van Deventer, Stephanie Peters, wat haar huis vir hulle oopgemaak het.
October het ’n “spesiale dankie” aan almal wat hulle in hul tyd van nood ondersteun het, gerig, veral aan Stephanie en Doyle Peters.
Vir skenkings, bel October by 078 209 9769.



