Die beskuldigde wat in hegtenis geneem is vir die moord op Sharaleen Isaks, wie se lyk meer as ’n jaar gelede een van vier was wat binne ’n week in Macassar ontdek is, is verlede week gevonnis.
William Mathee (42) ry aan die pen nadat hy verlede Donderdag (25 Julie) in die Somerset-Wes-streekshof tronkstraf opgelê is. Dié inwoner van Bellville, wat ’n pleit-en-vonnis-ooreenkoms met die staat aangegaan het om oor ’n moontlike vonnis te onderhandel, is 15 jaar gevangenisstraf opgelê.
Mathee se vonnisoplegging volg nadat hy Maandag 12 Junie verlede jaar in verband met die moord op Isaks, wie se lyk Saterdagoggend 27 Mei by die Macassar-strand aangetref is, in hegtenis geneem is. Isaks se lewelose liggaam was een van vier onbekende lyke wat binne ’n week in Macassar aangetref.
Die koerant het berig dat die polisie dié dag omstreeks 07:00 deur ’n visserman, wat die liggaam van die 25-jarige van Delft op die water sien dryf het, na die toneel by die strand ontbied is.
Die lyk van die halfnaakte vrou is deur owerhede uit die water gehaal. Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen en ’n beroep op die breë gemeenskap gedoen vir inligting om die vrou te identifiseer, asook nog drie lyke wat binne die bestek van enkele dae in die gemeenskap gevind is.
Nadat Isaks se liggaam aangetref is, het die Macassar-polisie aanvanklik ’n geregtelike doodsondersoek geopen, maar die saak het ’n nuwe wending geneem toe die lykskouing op moord gedui het. Volgens die polisie het die lykskouing ook aan die lig gebring dat die slagoffer se lyk op die strand gestort is.
LEES | Vierde lyk binne week in Macassar aangetref
Puik ondersoekwerk onder leiding van die ondersoekbeampte, speursersant Norman Ngonelo, en inligting wat met verklarings verkry is, het die vinger na die moordenaar gewys.
Deur die aanbieding van voldoende bewyse het die ondersoekspan ’n lasbrief vir die inhegtenisneming van Mathee by die Bellville-landdroshof bekom. Gewapen met hierdie lasbrief vir inhegtenisneming het die ondersoekspan op Mathee se woning toegeslaan, waar hy aangekeer is.
Mathee het Donderdag 15 Junie 2023 die eerste keer in verband met die misdaad in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn.
Mathee het homself Woensdag 21 Junie 2023 weer in die beskuldigdebank bevind vir ’n formele borgtogaansoek, wat deur owerhede teengestaan en ná uitstel geweier is.
Sy vonnisoplegging is voorafgegaan deur onderhandelings wat sowat ’n maand tussen die staat, die direkteur van openbare vervolging en die bedroefde familie geduur het om oor ’n geskikte vonnis ooreen te kom.
Mathee het verlede Donderdag amptelik skuld beken en is gevolglik op dieselfde dag gestraf. Hy is op die hoofaanklag van moord 15 jaar gevangenisstraf opgelê en op ’n tweede aanklag van poging tot dwarsboming van die gereg (omdat hy van die lyk ontslae wou raak) tot drie jaar tronkstraf gevonnis, wat samelopend met die eerste vonnis uitgedien sal word.
Ngonelo het sy tevredenheid met die vonnisoplegging uitgespreek. “Hoewel ons ’n meer gewigtige straf sou verwelkom, is ons steeds gelukkig met die straf wat onder omstandighede opgelê is,” het hy gesê.
Ngonelo het sy dankbaarheid uitgespreek teenoor die staatsaanklaers en die lede van die speurtak by die Macassar-polisiekantoor, wat as deel van ’n toegewyde span onvermoeid aan die saak gewerk het om te verseker dat geregtigheid seëvier.
“Die vonnisoplegging stuur ook ’n duidelike boodskap aan misdadigers wat dink dat hulle kan wegkom met misdade wat hier in ons polisiëringsgebied gepleeg word,” het Ngonelo gesê.
“Die langarm van die gereg sal julle inhaal en geregtigheid sal geskied.”
Ngonelo sê Isaks se 58-jarige ma het haar en die familie se waardering vir die reg wat wel sy gang gegaan het, uitgespreek.


