Weet jy regtig waar jy vandaan kom? Ken jy jou herkoms? Ken jy jou voorvaders en -moeders?
Aubrey Springveldt, ’n stamboomnavorser wat sy eie herkoms al sedert 1987 navors, het op Donderdag 20 April ’n besoek aan die Vriende van die Strand-biblioteek afgelê.
Springveldt se praatjie het nie soos vele ander oor ’n boek gegaan nie, maar oor sy werk met stambome en waarom dit so belangrik is.
“Ek het destyds my eie stamboom begin ondersoek, want in die algemeen weet ’n mens maar min van jou genealogie. Ons almal het egter een ding in gemeen, en dis dat ’n mens belangstel in wie jou voorsate was en waar jy vandaan kom,” sê hy.
Hy wou sy navorsing gebruik om mense te help juis omdat geen geboorteregistrasies voor 1895 gedoen is (soos dit deesdae die geval is) nie.
“Die kerke het wel doopregisters gehou, waarin die mense wat gedoop is, se name (asook hul ouers se name) neergepen is.”
Hy vertel verder plekke soos museums, biblioteke, boedelregisters, ander argiewe asook oorlog-registers gebruik kan word om ’n mens se geliefdes en voorsate op te spoor.
Wyle Danny Titus van die ATKV het Springveldt in 2014 gemotiveer om met ondersoeke na ander mense se geskiedenis te begin.
“Aubrey se praatjie by die Vriende van die Strand-biblioteek was merkwaardig. Hy het ons geleer indien jy in jou eie geskiedenis wil begin krap, moet jy by jouself begin.
“Jy moet kyk na wie jou ma en pa se ouers was. Dan kan jy só begin ondersoek instel na wie jou voorsate was,” sê Rina Swart, ’n lid by Vriende van die Strand-biblioteek, wat die praatjie bygewoon het.
Sy sê dit is ’n onderwerp waarin baie mense belangstel aangesien dit tog lekker is om te weet watter gene vloei in ’n mens se are.
Omdat Springveldt juis met mense se sensitiewe inligting werk, is dit noodsaaklik vir hom om met soveel deernis en begrip as moontlik te werk. “Mense in bruin families kan nou makliker begin om hul families se geskiedenis na te vors. Gaan praat met van jou ouer familielede en luister na hul stories. Daar hoor ’n mens soms iets soos ’n plaasnaam of ’n familie-skinderstorie wat jou meer inligting kan gee wat ’n mens met die navorsing kan help,” sê hy.
Springveldt maan mense om die gesprekke wat hulle met hul familielede het, op te neem. Dit moet die verteller se naam en van, ouderdom asook die datum van die gesprek insluit.
“Bewaar die inligting, want jou nageslag sal dankbaar wees daarvoor,” voeg hy by.
Indien jy ’n bietjie dieper in jou eie se familie se geskiedenis wil delf en nie juis weet waar om te begin nie, kan jy Springveldt per e-pos by aubrey.capemix@gmail.com kontak.




