Plaaslike gemeenskapsgroentetuine word Donderdag 17 November die geleentheid gebied om hul vars en organies gekweekte oeste direk aan die publiek by uitgesoekte Shoprite- en Checkers-supermarkte landwyd te verkoop.
In die Helderberg sal die Siyazama-gemeenskapsgroentetuin se hoëgehalte-varsprodukte by Checkers Somerset-Wes te koop wees.
“Die markdag is in 2017 ingestel om ons ondersteuning van gemeenskapsgroentetuine verder uit te brei en volhoubare bestaansgeleenthede te skep. Dit bied aan die gemeenskapsinisiatiewe ’n geleentheid om hul organies-gekweekte varsprodukte te verkoop en ’n inkomste te verdien, terwyl hulle hulself aan ’n breër gehoor bevorder en waardevolle kleinhandelervaring opdoen,” sê Sanjeev Raghubir, die volhoubaarheidsbestuurder by die Shoprite-groep.
Hongerverligting is die kern van die Shoprite-Checkers-groep se korporatiewe maatskaplike beleggingsprogram. Deur sy Act For Change-program ondersteun dié kleinhandelaar meer as 180 gemeenskapsgroentetuine en meer as 3 500 agterplaas-groentetuine, wat byna 53 000 begunstigdes raak.



