’n Liefdevolle kind.
So onthou ’n bedroefde Macassar-ma haar tienerseun, Sergio Lewis, wat die noodlottige slagoffer van ’n vermeende bendeverwante messteekvoorval was en Saterdag (23 April) ter ruste gelê is.
Die voorval wat Sondag 10 April in Macassar afgespeel het, het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.
Inwoners het drie dae ná die messteekvoorval na die plaaslike polisiekantoor opgeruk en hul ontevredenheid oor die moord uitgespreek (“Macassar staan teen bendegeweld,” DistriksPos, 21 April).
Kaptein Frederick van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig die omstandighede rakende Sergio se dood word nog ondersoek.
“Polisielede is ingelig oor die moord op 10 April omstreeks 19:10. Hulle het die slagoffer met ’n steekwond in sy bors gevind, hy is dood op die toneel verklaar,” het Van Wyk gesê.
Sergio se ma, Chantel Lewis, het vir die eerste keer vandeesweek uitgepraat oor haar 18-jarige seun se moord. Sy het herroep dat hy die middag 17:00 nog by haar was voor hy vir sy pa en sy sussie en boetie gaan kuier het. Twee ure daarna het sy die tyding ontvang dat haar seun sy lewe verloor het.
“Sergio was my enigste kind. Hy het nog so baie drome gehad. Hy wou begin werk soek. Hy wou sy rybewys gaan kry en eendag ook sy eie motor aanskaf,” vertel sy.
Volgens Lewis het ’n groep vermeende bendelede glo haar seun omsingel en na bewering toe doodgesteek. Sergio se sussie was glo naby hom tydens die voorval en sy het vir die bende geskree en gevra om haar boetie uit te los.
Dis egter die polisie se goeie speurwerk wat daartoe gelei het dat ’n 18-jarige verdagte vasgetrek is en op aanklagte van moord spoedig in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn het. Die verdagte is by ’n veilige sorgsentrum opgeneem vir nadere ondersoek.
“Ek het nooit geweet my kind ken so baie mense daar buite nie. Hy was eintlik almal se kind, want almal het opgestaan en saam polisiekantoor toe gegaan om op te staan teen die bendes wat ons lewens gyselaar hou,” het die ouer meegedeel.
By Sergio se begrafnisdiens die afgelope Saterdag was die gemeenskap se teenwoordigheid so sterk dat daar nie genoeg vervoer was om al die roubeklaers na die begraafplaas te vervoer nie.
Volgens Wyk 109-raadslid Peter Helfrich, het polisie die gemeenskap gefaal. “Bendegeweld en ernstige misdade in Macassar het buite beheer geraak. Inwoners beweer dat hulle geterroriseer word deur ’n bende wat bekendstaan as die ‘Bomb Squad’ ”, het Helfrich gesê.
Volgens hom is dié bendes iets waaraan gemeenskaplede nie gewoond is nie, want hulle teiken ook die gewone inwoner op straat. Helfrich het ook meegedeel dat polisieminister Bheki Cele ingestem het om Dinsdag 3 Mei ’n verteenwoordiger uit te stuur na die plaaslike munisipale kantoor om hom oor die kwessie te spreek.
Maar, Helfrich het bygesê dat ’n vorige besoek oor ’n ander saak nie veel opgelos het nie. “In Februarie het die polisie se verteenwoordiger met besoek beloof om meer hulpbronne beskikbaar te stel aan die polisiekantoor in Macassar. Die beloftes het nooit gerealiseer nie.”
V
Mense met inligting oor die steekmoord, kan vir sersant Norman Ngonelo by 021 857 7107 bel.
Hopelik die keer as enige verpligtinge gemaak word dan word dit nagekom.”
Lewis is van mening dat hierdie tipe misdaad nie sin maak nie. “Ons as gemeenskap is moeg vir wat aangaan in ons gemeenskap. Ons kinders se lewens is niks werd vir die bendes nie. Iewers moet iets gebeur want ons verloor ons kinders. My kind is nou op ’n plek waar hy veilig is, waar ek weet hy kan nie weer seergemaak word nie.”



