Foto’s van Deveney Nel wie se lewe koelbloedig kortgeknip is en ’n kers is in die skool se ingangsportaal geplaas.Foto: Mitzi Buys


Emosionele tonele het Maandag (12 Augustus) by die Hoërskool Overberg in Caledon afgespeel toe leerders, personeel, ouers en lede van die gemeenskap blomme, teddiebere en kaartjies ter herinnering aan die Grabouw-tiener Deveney Nel, wie se liggaam verlede Woensdag op die skoolterrein gevind is, by die skool se ingang neergelê het.

Die skool is Maandagoggend heropen nadat dit Donderdag (8 Augustus) gesluit was sodat forensiese deskundiges die skoolterrein kon fynkam vir enige leidrade in verband met die moord op dié graad-10-leerder wie se liggaam die vorige aand in een van die stoorkamers ontdek is. Dié gruvonds is ontdek tydens ’n soektog wat van stapel gestuur is nadat Nel se ma, Lida, haar as vermis aangemeld het toe sy nie met haar saamrygeleentheid van die skool af in Grabouw opgedaag het nie.

Hoewel die skool Donderdag gesluit was, het die NG Moedergemeente berading vir leerders aangebied. Verdere traumaberading is Maandag deur beraders van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) gebied.

Veiligheidswagte het Maandagoggend streng toegangsbeheer by die skool toegepas. Die WKOD het ’n beroep op die gemeenskap en media gedoen om die skoolgemeenskap se privaatheid te respekteer en hulle die nodige tyd en ruimte te gee om te rou.

“Hoewel daar groot belangstelling is, is die welstand van leerders en personeel ons hoofprioriteit,” het die Wes-Kaapse onderwysminister David Maynier gesê.

“Ons wag op die uitslag van die polisie-ondersoek; geregtigheid moet geskied en die oortreder moet vir sy dade boet.”

Fokus op feite

Volgens ’n stemnota wat deur die skoolhoof, Johan Jacobs, uitgereik is, het die skoolpersoneel Maandagoggend vroeg met afgevaardigdes van die WKOD sowel as die polisie vergader voordat ’n spesiale byeenkoms in die skool se vierkant gehou is.

In dié stemnota vra Jacobs minstens drie keer dat die skoolgemeenskap nie in vrees moet leef na aanleiding van die “absoluut skokkende gebeurtenis” nie.

Hy beweer ook dat nuus in die media en op sosiale media rakende die moord en die ondersoek “nie altyd gebaseer is op die werklike feite nie”.

Die skoolbeheerliggaam het ook oor die naweek ’n verklaring op sosiale media uitgereik waarin hy gemeld het dat geen verdagtes nog in hegtenis geneem is nie en maan teen gerugte wat op sosiale media die ronde doen.

Dit lui: “Daar is wydverspreide berigte op sosiale media, wat vals is of nie geverifieer is nie. Sodra ons meer inligting het, sal ons dit onmiddellik deel.”

Die tienermeisie se moord is uit verskeie oorde skerp veroordeel.

Die burgerregte organisasie Kaapse Forum het ’n skrywe aan die provinsiale minister van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid, Anroux Marais, gerig, waarin kommer uitgespreek word oor sekere aspekte van die ondersoek, onder meer bewerings dat die mens wat op Nel se liggaam afgekom het en die een in wie se besit haar selfoon gevind is nie dadelik ondervra is nie.

Heindrich Wyngaard, voorsitter van Kaapse Forum, sê ook in die brief: “Ons glo die gemeenskap het die reg om op hoogte gehou te word spesifiek sodat aannames nie gemaak sal word oor moontlike verdagtes nie of sodat vingers nie na onskuldige mense gewys word nie.

Almal moet saamwerk

“Dit is ook in die belang van maatskaplike samehorigheid by die skool en in die breër plaaslike gemeenskappe.”

Die Theewaterskloof-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, Mary Liebenberg, het gesê die moord herinner almal dat baie nog gedoen moet word om vroue en jong meisies se veiligheid en waardigheid te verseker.

“Dit is nie net ’n aanval op een onskuldige meisie nie, maar op die struktuur van ons gemeenskap en ons waardes,” het sy bygevoeg.

Liebenberg het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om die polisie te kontak met enige inligting wat tot ’n deurbraak sal lei. “Geregtigheid vir Deveney Nel kan net geskied as ons almal saamwerk,” het sy bygevoeg.

  • Die [polisie se] provinsiale eenheid wat ernstige en geweldsmisdade ondersoek, is aan die stuur van die moordondersoek. Enigeen met inligting oor die moord kan brigadier Leon Hanana by 082 522 2281 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article