Ricardo Johnson glo dwelmverslaafdes is daartoe in staat om hul lewe te verander.


Met Internasionale Dag teen Dwelmmisbruik en Onwettige Handel wat verlede Sondag (26 Junie) gevier is en Junie-maand wat as dwelm-bewusmakingsmaand bestempel is, het Distrikspos & Helderberg Gazette met ’n voorbeeldige man gepraat wat aan dwelms verslaaf was en sy lewe handomkeer verander het.

Ricardo Johnson, ’n 45-jarige inwoner van Strand met vyf kinders en drie kleinkinders, wei tans sy lewe daaraan om dwelmverslaafdes te wys dat ’n mens wel jou lewe kan verander.

“Ek het my hele lewe op twaalfjarige ouderdom verander nadat ek verkrag en amper vermoor is. Dit het my gedryf om ’n dwelmverslaafde te word. Ek het eers begin met drank; toe sigarette. Toe ek begin dagga rook, het ek by bendes betrokke geraak,” vertel hy.

Hy het soveel seer ervaar dat hy besluit het hy wil nooit weer so voel nie, maar wil leer hoe om ander om hom seer te maak.

“Ek het mense beroof en geen genade gehad nie. Ek was ’n bestuurder by ’n goeie maatskappy in 1999, maar het toe met dwelms en daarna met tik begin. In 2003, het ek my werk verloor en my lewe het uitmekaar begin val.”

Ricardo het toe by die onderwêreld betrokke geraak, waar hy met vuurwapens en gesteelde goedere begin handel dryf het. Hy het in dié tyd Mandrax begin smokkel en dit self begin gebruik.

“Ek het so diep in die onderwêreld inbeweeg dat ek geen beheer oor my lewe gehad het nie.”

Hy het sy familie in dié tyd erg afgeskeep en hulle seergemaak, en baie emosionele skade agtergelaat.

“Ek het later my selfrespek ook verloor en als in my huis verkoop om geld te kry om dwelms te koop.”

Sy lewe het in 2011 verander nadat hy die stem van die Here gehoor en besluit het om kerk toe te gaan en sy lewe reg te ruk.

“Ek is vandag amper 12 jaar skoon. Ek het besluit om my lewe aan die Here te wei en ander bendelede ook aan Jesus bekend te stel.”

Tans is hy die leier by ’n dwelmmisbruik- ondersteuningsgroep, die Changing Lives Centre, wat dwelmverslaafdes help om hul lewe te verander.

“Ons groep reik ook uit na gevangenisse en skole en dan deel ons al ons stories met die mense oor hoe ons, ons eie lewe verander het.”

Ricardo is 11 jaar later – in 2014 – weer by dieselfde maatskappy waar hy destyds sy werk verloor het, aangestel.

“Ek het ’n kwalifikasie gekry teen dwelmmisbruik en ek hoop om ’n groter impak in my gemeenskap te maak deur ander op hul pad na herstel te help.”

Sy boodskap aan jongmense wat tans in ’n wêreld van dwelms vasgekeer is, is om te luister na mense wat daardie wêreld oorleef het en nie meer daarin vasgevang is nie. “Maak ’n wyse besluit en dink aan jou toekoms. Maak die regte keuses en moenie deur jou ‘vriende’ beïnvloed word nie,” bemoedig hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article