Die legendariese Summie-onderwysers Seugnet Naudé en Louzanne de Villiers groet hul geliefde skoolgemeenskap, maar bly jare lange vriendinne.Foto: Jamey Gordon


Een van die Helderberg-kom se oudste laerskole het twee geliefkoosde onderwysers van onskatbare waarde ná ’n gesamentlike sewe dekades van onbaatsugtige en toegewyde diens aan die skoolgemeenskap gegroet.

Die geliefde en gerespekteerde opvoeders van Somerset-Wes Primêre Skool (SWPS), Louzanne de Villiers en Seugnet Naudé, het Dinsdag (30 April) die tuig neergelê.

Dié twee besonderse personeellede, wat elke werksdag met bewonderens­waardige passie en pligsgetrouheid aangepak het en bewys is van die sukses wat behaal kan word wanneer opvoeders werklik in die leerder as mens belangstel, het ná meer as 43 en 32 jaar onderskeidelik uit die onderwys getree.

De Villiers het nadat sy haar onderwysgraad aan die Universiteit Stellenbosch in Januarie 1981 verwerf het, as beginneropvoeder by die skool in Dirkie Uysstraat aangesluit en 39 jaar van haar dekades lange loopbaan aan die instelling gewy. Die ander vier jaar het sy by Somerset House gewerk.

De Villiers was vir baie jare ’n gr. 4-, gr. 6- en gr. 7-klasonderwyser wat die meeste vakke (behalwe houtwerk) in die intersen-fase aangebied het. Sy is later as departementshoof bevorder en het in 2016 as adjunkhoof waargeneem.

De Villiers se loopbaanhoogtepunte sluit in die geleentheid om in die bestuur van die skool te dien en om akademiese hoof te wees – ’n droom wat vir dié onderwyser ’n werklikheid geword het. “Dit was ’n groot eer en voorreg,” deel De Villiers, wat ook baie betrokke was by drama en sport – spesifiek netbal en swem.

“Al die groot skoolkonserte en dramaproduksies waarvoor ek verantwoordelik was, en ons eerste sporttoere, interskole en die vestiging van die beroemde Summie-gees het voorwaar tot groot hoogtepunte bygedra.”

De Villiers het in die voetspore gevolg van haar rolmodel en grootste inspirasie, haar ma, wat departementshoof by die Hoërskool Durbanville was. Sy kon haarself in geen ander beroep sien nie en sê sy het haar hart op die onderwys verloor.

“Dit is ’n vervullende beroep waar ’n mens die voorreg het om ’n verskil in die lewe van ander om jou te maak en deel te wees van die energieke jeug! Die beste oomblikke in die onderwys vir my was om te sien hoe die leerders hul beste gee en dit saam met my in die klas, op die verhoog of op die sportveld geniet,” deel sy.

“Ek het met oorgawe aan alles by die skool deelgeneem, en om skool te hou, was ’n lewenstaak en roeping wat ek baie geniet het.”

Die aansteeklike ‘Summie-gees’

Op die vraag hoe onderwyser-wees by haar as mens inskakel, verduidelik De Villiers: “Ek is dol oor kinders en dit is maklik om vir ons Summie-kinders lief te wees.”

Sy spreek verder haar blydskap uit oor die feit dat sy die geleentheid gegun is om die sirkel in haar onderwysloopbaan te voltooi.

Sy sien nou daarna uit om spesiale tyd saam met haar man en kinders deur te bring.

“Baie dankie aan die hele Summie-skoolgemeenskap, waarvan ek vir so lank deel kon wees. Behou die Summie-gees en onthou: ‘Once a Summie, always a Summie!’”

Naudé se reis as deel van die Summie-span het in 2002 begin toe sy aanvanklik as ouer in die Ouer-onderwysersvereniging (OOV) gedien en toe by die skool in die afwesigheid van ander weens siektes of operasies afgelos het. Haar plek het later permanent geword en sy is in 2012 as departementshoof aangestel.

Dié moederhen, wat ’n merkwaardige leerwyse van liefde toepas, dien die afgelope 22 jaar as ’n kosbare toevoeging tot die Summie-familie.

Naudé vind egter troos vir die bittersoet oomblik in al haar loopbaan­hoogtepunte – onder meer om met sukses onderrig te bied in skole waar geld beperk was en jy maar self geld moes insit of skenkings werf; waar kinders wou leer en knap resultate lewer en die opkoms van die digitale era wat dinge vergemaklik het.

Sy koester ook kosbare herinneringe van skoolhou vir graadeentjies tot gr. 7’s, en die geleentheid om ’n groot verskeidenheid vakke te kon aanbied. “Ek is vandag nog lief vir veral wiskunde in die grondslagfase, waarvan gr. 3 my gunsteling is,” voer sy aan.

Die keuse bly onderrig

Naudé het al van kindsbeen geweet waar haar passie lê en dat sy nie vir ’n dag in haar lewe sou “werk” nie, want sy het as klein meisietjie voor haar honde, katte en sussies gesit en hulle geleer. “Ek sou geen ander beroep kies nie,” meen sy.

Die groei van leerders, in die akademie en onafhanklikheid, is altyd vir haar kosbaar. Nog meer – ’n leerder wat eers gesukkel het om iets reg te kry en dit met verduideliking snap, die vreugde op só ’n kind se gesig wat boekdele spreek en ’n moedelose sieletjie in ’n moedige mensie verander.

’n Hoogtepunt bly vir haar die aansteeklike spangees tydens sport met ’n interskole-wen, oud-leerders wat ná skool presteer, leerders wat op kulturele gebied uitblink en die geleentheid om verbonde te wees by ’n welbekende skool ryk in tradisie en erfenis is die kersie op die koek.

“Ek is trots op wat ek oor die jare bereik het,” deel Naudé. “Ek is opgewonde oor die nuwe hoofstuk in my lewensverhaal en om meer tyd vir myself en familie te hê. Die Bybel praat van ’n tyd vir alles; dit is my tyd om te groet.

“Aan die leerders wat ek oor die jare onderrig het – julle sal altyd ’n spesiale plekkie in my hart hê. Bou jou lewe tot iets spesiaals en onthou –wat jy ook al doen, doen die beste moontlik.

“Aan die hoof, mnr. Van Schalkwyk, en die personeel – net die beste is goed genoeg vir ons kinders.

“Groei in jouself en geniet elke dag terwyl jy ’n verskil maak in al die kinders se lewe. Summies sal altyd spesiaal bly. ‘Once a Summie, always a Summie!’

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article