“Sy is stilletjies in haar slaap oorlede.”
Met ’n hartseer-rasper in sy stem het Bold van Rhyn Maandag (20 Februarie) die tyding oorgedra dat Ruby Stolsie in die ouderdom van 87 oorlede is.
Stolsie, beter bekend as “Ouma Ruby”, het die gemeenskap van Broadlandspark en die breër Helderberg se aandag in Maart verlede jaar aangegryp toe ’n groep mense vanuit die Helderberg – insluitend Van Rhyn – ingespring het om haar lewensomstandighede te help verbeter.
Ouma Ruby het destyds in ’n ou vervalle HOP-huisie in Broadlandspark in Fernstraat gewoon toe Van Rhyn, ’n bouer van beroep, haar met haar elektriese karretjie sien sukkel het. Hy het dadelik stilgehou om haar te help. Sy was sowat ’n kilometer van die plaaslike brandweerstasie af toe haar karretjie se battery ingegee het en Van Rhyn het besluit om haar na haar huis te neem. Toe hy by Ouma Ruby se vervalle huisie inloop, het hy besef sy leef in haglike omstandighede (“Nuwe begin vir geliefde Ouma Ruby”, Helderberg Gazette, 15 Maart 2022).
’n Klomp mense (van wie sommiges nie hul name genoem wou hê nie) het ingespring en Ouma Ruby se huisie buite asook binne opgeknap om dit gemakliker vir haar maak om in te leef.
’n Paar maande later het Ouma Ruby ’n erge infeksie opgedoen nadat ’n straatkat by haar huis se oop venster inglip, haar eie kat aangeval en sy probeer keer het, maar in die proses seergekry het.
“Sy is in die Helderberg-hospitaal opgeneem en twee dae later ontslaan met die nodige medikasie om verder by haar huis te gaan aansterk,” sê Van Rhyn.
Talle mense het in dié tyd na Ouma Ruby omgesien en haar verbande twee keer per dag geruil, maar Van Rhyn het agtergekom sy het al moeiliker begin word en soms baie deurmekaar was. Dit het dinge vir mense al moeiliker gemaak om haar te kom help.
Ouma Ruby was daarna weer ’n hele ruk in die Helderberg-hospitaal voordat iemand van die welsyn ingespring en vir haar ’n plekkie in die ACVV Huis Soeterus gekry het.
“Ek was baie beïndruk met die ouetehuis se diens, maar ’n ruk later het hulle my geskakel en laat weet Ouma Ruby kan nie meer by hulle bly nie en dat hulle vir haar plek in ’n ouetehuis in Macassar gekry het. Die ouetehuis het vereis dat Ouma Ruby se bankkaarte en haar Sassa-kaarte ingegee moes word aangesien hulle dan alles beheer, en ek het dit oorgegee,” sê Van Rhyn.
“Hulle sou die geld gaan trek en die Sassa-uitbetaling vir Ouma Ruby se verblyf aanwend.”
Die ouetehuis het Van Rhyn toe laat weet dat Ouma Ruby na ’n ouetehuis in Murraysburg moet skuif omdat sy nie genoeg geld gehad het om vir die verblyf by die bestaande ouetehuis te betaal nie.
“Ouma Ruby is toe na Murraysburg verskuif, en in dié tyd kon ons net oproepe maak aangesien sy 700 km van ons weg was. Partykeer het sy baie hartseer gehuil en gesê sy verlang verskriklik na ons en wil huis toe kom.”
Van Rhyn het tydens sy gesprekke met Ouma Ruby besef sy begin baie deurmekaar praat en die personeel by die ouetehuis het bevestig sy slaap amper die hele tyd en hul moes uiteindelik ’n pyp deur haar neus sit sodat sy voeding kon inkry.
“Sy het stadig agteruitgegaan en ons het geweet die tyd raak nou min. Sy is Maandag 20 Februarie om agtuur die oggend saggies oorlede.”
Van Rhyn sê die probleem nou is die feit dat die kostes om Ouma Ruby se liggaam by die lykshuis te hou totdat sy begrawe of veras kan word, R350 per dag beloop, en haar verassing gaan R14 000 kos.
“Daar is nie geld beskikbaar nie, en beurtkrag maak dit nog moeiliker, want Ouma Ruby se oorskot kan nie so lank koud gehou word nie. Die kostes hoop op en ons wil na die gemeenskap uitreik vir hulp en ondersteuning,” sluit Van Rhyn af.
- Indien jy ’n skenking vir Ouma Ruby se verassing wil doen, kan jy Adrie van Gerwe van Huis Spitskop in Murraysburg by 073 962 8383 bel.



