’n Strandse babasorgsentrum het verlede maand sy deure gesluit nadat die kollig op die welstand van babas en peuters in sy sorg geplaas is.
Ouers van kleingoed wat aan Liefielyfie-babasorg toevertrou is, is Vrydag 25 Maart deur die Wes-Kaapse departement van gemeenskapsontwikkeling versoek om hul kinders weens veiligheid- en gesondheidsredes uit die sorg van die sentrum te verwyder.
Benewens dat die sorgsentrum as ’n “ongeregistreerde struktuur” bedryf word, het bewerings dat kinders in verskeie voorvalle slagoffers van seksuele mishandeling geword het, die ronde gedoen.
Liefielyfie-babasorg is die kinderdroom van Joey Cosmo, wat in April 2019 met die hulp en ondersteuning van haar man ’n werklikheid geword het (“Liefielyfie gee nie net drukkies,” Helderberg Gazette, 9 Februarie 2021). Cosmo het die babasorgsentrum uit ’n perseel in Alex Pienaarstraat bedryf en dit as een bemark wat deur haar passie vir kinders en eie slegte ondervinding op hierdie gebied aangespoor is. Hiermee het sy besorgde ouers oortuig om hul pragstukkies met ’n geruste hart by dié sentrum agter te laat om hul werksdag kommervry aan te pak.
Maar, ouers is deur die departement van gemeenskapsontwikkeling aanbeveel om van Maandag 28 Maart af ander reëlings te tref om na hul kinders te laat omsien.
Die departement het in ’n brief, wat aan ouers gerig is, verduidelik die dagsorgsentrum word uit ’n ongeregistreerde struktuur bedryf. “Die veiligheid van u kind kan nie in die ongeregistreerde struktuur gewaarborg word nie. Ingevolge die Kinderwet (38 van 2005) moet enigiemand wat na ses of meer kinders omsien, by die departement van gemeenskapsontwikkeling geregistreer wees,” lui die brief.
Verslae is van die departement asook ’n aangewese kinderbeskermings-organisasie, waar Liefielyfie-babasorg geleë is, ontvang. Volgens die departement het die verslae aan die lig gebring dat die babasorgsentrum nie aan die minimumvereistes en standaarde soos voorgeskryf in die Kinderwet vir gedeeltelikesorg-fasiliteite voldoen nie. Die departement het dus sy wetlike mandaat gebruik om Cosmo in kennis te stel dat sy dadelik haar bedrywighede by die dagsorgsentrum moet staak.
Verder het gerugte die ronde begin doen dat een van die werknemers van Liefielyfie-babasorg se man glo vier babas gemolesteer het.
Cosmo het gesê sy wil in hierdie stadium geen kommentaar lewer nie aangesien dit ’n lopende saak is.
“Dis ’n baie pynlike stadium wat ons deurgaan – as gevolg van leuens. Die waarheid moet uitkom. Sodra die saak afgehandel is, sal ek met liefde gesels,” het sy aangevoer.
Adjudant-offisier Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, het bevestig die ondersoek is tans in ’n sensitiewe stadium.
“Die saak is in ’n gevorderde stadium en ons gaan binnekort die skuldiges wat aan die klaagsters bekend is, aankeer.”
Cosmo het in verlede jaar se onderhoud met DistriksPos se susterskoerant, Helderberg Gazette, gesê: “Die volledig toegeruste babasorgsentrum bied liefde in oorvloed aan danksy passievolle personeel vir wie elke baba se welstand en gelukkige ontwikkeling prioriteit is; uitstekende veiligheid vir babas en ouers se gemoedsrus; stimulering geskik vir elke unieke ouderdomsgroep en weer eens nog liefde.”
Sy het verder gesê: “Ek werk persoonlik met die babas; ek is self ’n ma en het in die verlede self slegte ondervindings met kleuterskole en dagsorgsentrums gehad, waar my kind baie terugslae ervaar het.
“Ek het myself belowe om so ver as moontlik geen ander mamma deur ’n ervaring te sit waarin hul kosbare babatjies skade kan ly of hul toekoms belemmer kan word nie. Ek glo dat ’n mens ’n baba se grondslagjare reg moet lê om van hulle gelukkige kinders te maak en hulle sterk te maak vir die lewe wat voorlê.”
Op daardie tydstip het Liefielyfie-babasorg na agt babas tussen sewe en 25 maande oud omgesien.
Volgens Beukes is seksuele misdrywe teenoor kinders aan die toeneem. “As sulke gevalle vermoed word, moet dit aangemeld word.
“Dit is kommerwekkend dat dit in dié soort sake veral familie en ook mense is wat die gesin vertrou, wat by dié soort misdaad betrokke raak.
“Die polisie spreek hom sterk uit waar die onskuld en kwesbaarheid van kinders uitgebuit word,” het hy gesê.V Seksuele misdrywe teen babas en kinders kan by 08600 10111 aangemeld word.



