Die Helderberg-rugbyklub het die afgelope Saterdag (24 Mei) vir die eerste keer hierdie seisoen ‘n hele wedstryd voluit gespeel in sy Superliga A-derby teen St. George’s op ‘n volgepakte Charles Morkel-stadion.
Die eindtelling van 54-13, wat agt drieë vir die tuisspan en twee vir die Lulu Boys ingesluit het, weerspieël die intensiteit van die 80 minute.
Reeds in die vierde minuut, ná ‘n breekslag van die Berge agtsteman, Erhard Lambrecht, was sy kaptein en skrumskakel, Michael Visser, byderhand om af te rond, wat hy self verdoel het (7-0). In die 18de minuut het St. George’s se losskakel, Curtley Hendrikse, met ‘n strafdoel geslaag (7-3).
In die 25ste minuut het Michael Visser sy senter, Zak Labuschagne, gevoer, wat op sy beurt die linkervleuel, Jeandré Lukas, weggestuur het hoek toe (12-3).
In die 30ste minuut het die sterk Lulu’s flank Caden Wanza die verdediging vir ‘n hoekdrie uitoorlê (12-8). In die 33ste minuut, met ‘n skrum naby St. George’s se doellyn, het Visser gebreek, sy losskakel, J.J. Stover, gevoer, wat by sy binnesenter, Quinn Visser, aangesluit het en dié onder die pale gedruk het. Michael Visser het verdoel (rustyd 19-8).
Ná rustyd het Michael Visser deurgebreek vir sy tweede drie en doelskop (telling 26-8). Onmiddelik hierna het Lambrecht sy flankmaat, Jady Labuschagne, vir ‘n skitterdrie gevoer. Ná die doelskop was die telling 33-8.
Nog vyf minute later het die plaasvervanger-flank, Waylin Pick, ‘n verdoelde drie gedruk (40-8). In die 73ste minuut het die plaasvervanger-buitesenter, Ewald ter Haar, aangeval, vir die
plaasvervanger-heelagter, Clyde Jackson, aangegee en hy het sy vleuel Lukas oor die doellyn gestuur. Visser het verdoel (47-8).
Met twee minute oor het Jackson sy span se agtste drie gedruk. Visser se doelskop het sy bydrae 24 punte gemaak.
Oomblikke voor die eindfluitjie het die Lulu’s-linkervleuel, Junaid Phillips, ‘n skitterende drie in die Castle-hoekie gedruk (ET: 54-13).
Die Lulu’s het die wedstryd met selfvertroue betree en was in die eerste 40 minute mededingend, maar kon nie sy momentum behou nie.
Berge het in die tweede helfte sy spelplan aangepas en met vinniger balverspreiding en beter afronding vorendag gekom.
Michael Visser was veral uitstaande en het keer op keer die verdediging van St. George’s uitmekaar geruk.
Vir die Lulu Boys is dié verlies nie net ‘n nederlaag op die telbord nie, maar ook ‘n harde herinnering aan die werklikheid van hul huidige posisie op die punteleer. Met geen seges dié seisoen nie, sluip relegasie al hoe nader.
Ander uitslae:
– SLB: Macassar 26-26 Kraaifontein.
– SLC: All Saints 23-50 Violets, Strand 31-24 Pniël Villagers, Strand United 37-7 Eerste River.
Bepalings vir Saterdag 31 Mei:
– SLA: Helderberg t. Tygerberg, False Bay t. St George’s;
– SLC: Strand t. Langa, Rangers t. Strand United;
– Noordelike Liga: Raithby t. Whistling Wheels, GB Pioneers t. Blue Stars, Sir Lowrians t. Albions.











You must be logged in to post a comment.