Die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het beamptes by die Stad Kaapstad genader om in te tree om te verseker dat Rusthof Sekondêre Skool ’n veilige hawe vir sy leerders is.
Dit nadat ’n leerder van die skool Woensdag 15 Februarie – kort nadat ’n veiligheidsvergadering by die einste skool gehou is – met ’n skêr gesteek is (“Skêr-stekery by skool”, DistriksPos & Helderberg Gazette, 22 Februarie). Die leerder het vermoedelik ’n bakleiery tussen twee ander leerders by Rusthof Sekondêre Skool probeer stop toe hy met ’n skêr gesteek is. Die voorval was presies 23 dae nadat die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) ’n vergadering by die skool gehou het om toenemende misdaad by dié hoërskool te bespreek.
Brendyn Alloys, die Strand-GPF se sekretaris, het uitgereik na Reagen Allen, die Wes-Kaapse LUR vir polisietoesig en gemeenskapsveiligheid, asook JP Smith, die burgemeesterskomitee-lid vir veiligheid in die Kaapse metroraad, en hulle gevra vir hulp om wetstoepassers by die skool te ontplooi. “Verskeie rolspelers het op Maandag 27 Februarie by Rusthof Sekondêr bymekaar gekom om die styging in gewelddadige voorvalle by die skool te bespreek. Die skool val onder die Lwandle-polisie se polisiëringsgebied en het een van die hoogste moord-syfers in die Helderberg. Die einste polisiekantoor het ons op die vergadering ingelig dat hulle onderbeman is en met hulpbronne sukkel. Hulle het glo ‘nie die mannekrag’ om by die skool te help nie. Dit plaas die veiligheid van die leerders in gedrang,” sê Alloys.
Hy brei verder uit en sê leerders word deur bendelede en dwelmsmouse gedreig en die skool en sy onderwysers het nie die hulpbronne of die kennis om dié soort misdaad te bestry nie.
“Ons benodig wetstoepassers wat by die skool ontplooi moet word, want die leerders se grondwetlike reg is om onderrig te ontvang, en dit word deur al die gebeure in die gedrang gebring,” voeg Alloys by.
Smith sê die Stad Kaapstad het wetstoepassers in verskeie gebiede wat deur geweld en misdaad geteiken word, ontplooi. “Met verwysing na die veiligheid by Rusthof Sekondêre Skool is dit belangrik om te onthou dit is die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) se verantwoordelikheid om veiligheid by die skool te verseker. Dit is waar dat die Stad Kaapstad in ’n vennootskap met die WKOD deur die ‘School Resource Officer project’ is, maar die ontplooiing van die beamptes geskied ingevolge die WKOD-vereistes en nie die Stad Kaapstad nie,” sê Smith.
Die WKOD is bewus van die probleme by Rusthof Sekondêr.
“Ongelukkig sal ons nie wetstoepassers by die skool kan ontplooi nie, want al die beskikbare wetstoepassers is reeds by ander skole. ’n Risiko-evaluering word gedoen om te bepaal watter skole voorkeur sal geniet,” sê WKOD-woordvoerder Bronagh Hammond.
Sy sê die WKOD werk saam net die skool om te bepaal watter gedrag-programme vir die skool sal werk.
“In samewerking met die metropolisie is 30 leerders gekies om ’n jeugleierskapprogram by te woon, wat die afgelope naweek aangebied is. Die WKOD se sub-direktoraat Safe Schools sal ’n verdere risikobepaling doen om te bepaal of die skool hulp benodig,” sê Hammond.



