Geen dossier is aangelê ná ’n onlangse dwelmvonds in die Strand nie.
AO Nico Beukes, die Strand-polisie se woordvoerder, bevestig dat die hof Woensdag 30 Maart ’n uitsettingsbevel moes beteken nadat die polisie ontbied is na ’n huis waar Mandrax en dagga gevind is.
Die polisie se honde-eenheid was ook by die huis in Vredenhofstraat.
“Die polisie moes gedwonge toegang kry tot die eiendom waar geld en Mandrax-poeier gevind is,” sê Beukes.
Volgens die polisie is 74 g dagga en R2 200 kontant op die perseel gevind. Die Mandrax-poeier wat gevind is, is in verskeie klein sakkies wat dit moeilik maak om te bepaal wat die gewig daarvan is.
Niemand was tuis nie en dis waarom die polisie niemand in hegtenis geneem het nie.
“Die dwelms en kontant is vir bewaring ingegee as ‘verlate’ en geen dossier of navraag is geopen na die dwelmvonds nie,” sê hy.



