Die nuut verkose Chris Nissen-park-komitee is raadop oor die toekoms van die woonbuurt en het tevergeefs om hulp na die Chris Nissen-park-trust probeer uitreik.
Billy Horne, die voorsitter van die Chris Nissen-park-komitee, en die res van die komitee het Maandag 24 Oktober ’n brief na die verkose bestuurslede van Chris Nissen-park gestuur om te kla oor die feit dat die woonbuurt onder die trust val en dus deur die Stad Kaapstad as ’n private stuk grond beskou word.
“Die Chris-Nissen-park-trust weerhou ons as gemeenskap se vooruitgang omdat die Stad ons inlig hulle kan ons nie help nie, want ons behoort aan ’n trust.”
Hy sê inwoners van Chris Nissen-park sukkel in die winter met riool wat op sommige plekke letterlik deur die huise vloei.
“Die dreine bly geblok en die water loop by hul huise in. As ons die Stad bel om te kom help, trek hulle net die skouers op en sê ons val onder ’n trust en die gemeenskap is op private eiendom geleë, en hulle kan ons dus nie help nie,” voeg hy by.
Die netbalbaan in die middel van die woonbuurt is volgens Horne sowat 10 jaar gelede gebou, en noudat die baan instandhoudingswerk benodig, trek die munisipaliteit glo weer eens die skouers op en verwys na die feit dat die buurt onder ’n trust val.
’n Lid van die Chris-Nissen-park-trust het ingestem om met DistriksPos & Helderberg Gazette oor die trust gesels het, mits dié lid se naam nie genoem word nie.
“Wanneer vergaderings beroep is, was dit verskriklik moeilik om mense bymekaar te kry. Die mense wat gekies is, het almal van buite gekom.”
Die trust-lid vertel verder dat hulle ook met die trust se geldsake moes werk, maar die lid het glo nooit geweet wat in die trust se geldsake aangaan nie. “Ek het nooit geweet watter soort bankrekening die trust gebruik nie, hoeveel geld daarin is nie en wie met die geld werk nie. Ek het nooit van daardie dinge geweet nie.”
Die lid vertel die trust het nog nooit iets tot die gemeenskap bygedra nie. “Dit lyk asof die komitee, nou deur die trust geblok word. Ek het volle begrip vir die frustrasie wat heers.”
Volgens George Bezuidenhout, ’n gemeenskapsleier in Chris Nissen-park, is die trust in 1990 gestig omdat die grond waarop die 204 huise op Chris Nissen-park opgerig is, private grond was.
“Die trust het aandele ontvang van ’n maatskappy waar Chris Nissen ’n direkteur was. Die aandele is aan Chris Nissen betaal. Hy moes toe ’n fonds op die been bring om kinders uit die gemeenskap te help om ná skool verder te studeer. Die trust het in 2013 laas gefunksioneer, maar volgens my kennis is ’n bankrekening nooit geopen nie. Die trust het dus nooit ontwikkel nie. Die huise wat destyds gebou is, staan nog so, en geen nuwe ontwikkelings het in Chris Nissen-park plaasgevind nie.”
Ian Baard, die voorsitter van die Chris Nissen-park-trust, is genader vir kommentaar oor die trust, maar het laat weet hy is nie meer die voorsitter van die trust nie en kan geen kommentaar lewer nie.
Dinah Adams, die trust se ondervoorsitter, het gesê sy moet eers ’n mandaat van die ander lede kry voordat sy oor die trust mag praat.
“Dit is die eerste keer dat hulle (die komitee) ons (die trust) nader. Ons word nie na vergaderings genooi nie. Ek is ’n oud-aktivis van die gemeenskap, maar ek gaan nie kommentaar lewer nie, want ek wil nie deel wees van ’n vingerwysery nie,” sê Adams.
Wyk 84-raadslid Norman McFarlane sê die grootste deel van die grond behoort aan die trust wat beteken dat die Stad Kaapstad nie jurisdiksie het daar nie. “Die Stad Kaapstad ‘skeep’ nie die inwoners af nie. Die Stad Kaapstad en ek inkluis het nie locus standi nie.”



