‘n Plaaslike gemeenskapsorganisasie het die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) en onderwysvakbonde van stilswye beskuldig nadat hulle sedert November griefskrifte ingedien het oor die plasing van alle leerders vir die 2026- akademiese skooljaar.

ding-en-omgewingsforum.
Die Macassar-opvoeding-en-omgewingsforum (wyk 109) het voor die Desember-skoolvakansie ‘n amptelike klagte by die WKOD, Sadou, Naptosa en verskeie politieke partye ingedien waarin hulle seker wou maak dat geen leerders ongeplaas bly nie.
Volgens die forum se voorsitter, Julian Keet, is die huidige waglystelsel “totaal onaanvaarbaar en ‘n blatante manier om ons kinders uit die skool te hou”. Die organisasie, wat in Januarie 2025 gestig is met ‘n grondwet wat later op 3 Maart gefinaliseer is, het ontstaan weens toenemende ouerklagtes oor leerderplasing.
Keet het hierdie week aan die koerant bevestig dat geen van die betrokke departemente of organisasies tot dusver terugvoer gegee het nie, ten spyte van hul oorspronklike eis dat die WKOD binne sewe dae moes reageer.
Die forum bepleit die daarstelling van ‘n vaardigheidskool, aangesien die huidige twee hoërskole in Macassar leerders van ses laerskole moet akkommodeer. “Die druk sluit in oorvol klaskamers, ‘n groot aantal ongeplaaste leerders en ‘n enorme las op opvoeders,” verduidelik Keet.
Die organisasie is ook bekommerd dat leerders by skole buite wyk 109 moet aansoek doen, wat onnodige vervoerkostes en veiligheidsrisiko’s vir ouers meebring.
“Ons gaan die situasie by onderskeie skole noukeurig monitor en toesien dat elke leerder in ‘n klaskamer geplaas word. Ons sal nie toelaat dat leerders se leeromgewing deur die onderwysdepartement se optrede benadeel word nie,”
Die forum se uitvoerende bestuur bestaan uit Keet (voorsitter), Heston Hess (ondervoorsitter), Kasifa Samuels (sekretaresse), Jeffrey Hopley (hulpsekretaris), Rhoda Bazier (kassier) en Russel Williams (skakelbeampte).
Die WKOD-woordvoerder Bronagh Hammond het op Woensdag 14 Janaurie by navraag aan die koerant gesê: “Die WKOD het voorheen met die groep beraadslaag en is bewus van hul bekommernisse. Die WKOD het aangedui dat hulle beskikbaar was om op 9 Desember 2025 te vergader, maar weens die beweerde onbeskikbaarheid van die forum is die vergadering vir 10 Desember 2025 geskeduleer.
“Hierdie vergadering moes egter uitgestel word weens bevorderings- en vorderingsverpligtinge wat die distrik op daardie dag as gevolg van die sluiting van skole gehad het. Die WKOD is steeds bereid om met die forum in gesprek te tree. Ons is egter deeglik bewus van die plasingsuitdagings wat geopper is en gee aktief aandag daaraan. Kontak sal met die forum gemaak word om ‘n alternatiewe datum te reël. Die plasing van leerders bly tans ons nommer-een-prioriteit. Alle leerders wat aansoek gedoen het, verskyn op ons lys van ‘plasings aan die gang’.
“Met skole wat op Maandag 12 Januarie vir personeel heropen het, kon ons meer breedvoerig met skoolhoofde en bestuurspanne skakel om addisionele plekke te identifiseer. Verdere beweging binne die stelsel word verwag namate skole hul bevorderings-, vorderings- en inskrywingslyste finaliseer, wat dikwels addisionele kapasiteit skep.
“Daarbenewens sal die WKOD sy 10-dae-blitsopname doen sodra skole vir tien dae oop is. Hierdie opname verskaf akkurate data oor leerdergetalle in elke graad, wat die stelsel toelaat om te stabiliseer voordat verslag gedoen word.
“Die inligting wat ingesamel word, is van deurslaggewende belang om te bepaal waar addisionele hulpbronne – soos meubels en toerusting – benodig word en waar verdere plasingsgeleenthede bestaan. Leerders wat sonder ‘n geldige rede nie by die skool opdaag nie, kan op die 10de skooldag gederegistreer word, wat ruimte bied vir verdere plasings.”
Bekommerde ouers kan die organisasie vir hulp met opvoedingskwessies nader. Vir meer inligting, kontak die sekretaresse Kasifa Samuels by 079 475 6254.





You must be logged in to post a comment.