Aan die begin van elke nuwe jaar word ons as portefeuljebestuurders en makelaars oorval deur kliënte wat wil hoor of die vooruitsigte vir die JSE en die aandelemarkte goed sal wees.
Kliënte soek graag, soos kollega Hannes Smuts van PSG Hermanus dit stel, pêrels van wysheid.
Dit is ’n interessante tyd van die jaar, want die meeste van ons is beleggers en blootgestel aan die skommelinge op die beurs, hetsy deur die pensioenfondse waartoe ons maandeliks bydra, of sommer ’n debietorder wat “afgaan” na Allan Gray of Coronation toe.
Dit is ook dán wanneer mens aan al die redes kan dink waarom die groei wat die jaar verwag word, goed, minder goed of sleg kan wees.
Ek is nogal versigtig optimisties oor die jaar wat voorlê en ook oor watter aandele ’n mens die jaar kan aankoop om dalk munt te slaan uit enige styging op die JSE.
Die volgende transaksie en omgewing verdien vermelding.
Ons binneland het goeie reën ontvang ná die droogte wat groot skade vir boere veroorsaak het.
Dit wil voorkom of ons ’n goeie mielie-oes kan verwag, wat weer afwaartse druk op mieliemeel en ander voedselpryse kan plaas. Hopelik word groente en vars produkte goedkoper, wat weer vir die verbruiker verligting kan bring.
Ek wil my amper verstout deur te noem dat ’n mens na aandele kan loer soos Tiger Brands, Pioneer Foods en selfs Zeder Beleggings Beperk.
Die genoemde aandele het reeds begin opwaarts beweeg.
Die goedkoper insetkostes ten opsigte van graan en middele wat hulle moet aanskaf, sal eers in die volgende ses tot 12 maande se resultate deursyfer, maar die mark het dit al klaar begin inprys in hierdie aandele.
Die voorgenome transaksie tussen Steinhoff International Holdings NV en die Shoprite-groep lyk ook baie interessant en kan ook vir ’n paar interessante verwikkelinge sorg.
Die Shoprite-groep wil al Steinhoff se Afrika-belange oorneem. Dit sluit winkels soos Pepkor Africa, Ackermans, JD Group, Penny Pinchers, Buco, Timbercity en Tekkie Town in. Shoprite reik dan nuwe aandele uit aan die Steinhoff-groep, wat dan ’n ekwiteitsbelang in die groter Shoprite-groep, wat as Retail Africa bekend sal staan, sal kry.
Dit kan lei tot ’n kleinhandel-kolos met ’n omset van by die R200 miljard en wins voor belasting en- depresiasie, van ongeveer R15 miljard.
’n Mens moet darem ook nie uit die oog verloor nie dat die plaaslike verbruiker in Suid-Afrika nog steeds onder kwaai finansiële druk verkeer, meesal as gevolg van stygende brandstofpryse en ook kos en elektrisiteit, wat die verbruiker die laaste paar jare gekarnuffel het.
Ek hoop dat die komende begroting sag op die verbruiker se sak sal wees en rede sal gee om oor te glimlag.
Brexit en president Trump van die VSA het ook hul invloed laat geld in 2016 en ek dink dat die markte president Trump se beleid as positief beskou, veral vir die VSA en hul ekonomie wat, op die keper beskou, weer positief sal wees vir ander aandeelmarkte, soos reeds gesien is.
Trump is immers ’n sakeman, en sy beleide, hoewel nie altyd gewild nie, behoort die VSA te bevoordeel.
V Die skrywer besit aandele in Steinhoff International Holdings NV.



