Die minderjarige moordverdagte in die Brancoulin Fritz-saak is verlede week op R1 000 borgtog vrygelaat en in huisarres geplaas terwyl die saak weer uitgestel is – dié keer tot Woensdag 7 Desember.
Fritz, ’n belowende rugbyspeler van die St. George’s-rugbyklub, is Saterdag 18 Junie by ’n partytjie in die bors gewond en het met sy aankoms by die hospitaal beswyk (“Ek steier oor my seun se dood,” Distrikspos & Helderberg Gazette, 22 Junie).
Johanna Fritz, Brancoulin se ma, was verlede Woensdag (27 September) by die Strand-landdroshof toe die saak weer uitgestel is.
Volgens ’n bron by die hof kan die minderjarige verdagte in die saak net skool toe gaan en moet hy van daar af terug huis toe. As hy op enige ander plek gewaar word, kan hy weer in hegtenis geneem en sy borgtog teruggetrek word.
Die 17-jarige verdagte word deur ’n vertroulike informant beskryf as iemand met ’n donker verlede. Hy het glo ook ander sake teen hom.
Johanna sê sy is nie gelukkig oor die borgtog nie.
“Ons kan niks daaraan doen of verander nie. Die verdagte het gevra vir borgtog en dis toegestaan op grond van sy versoek om terug skool toe te gaan,” voeg sy by.
Zorah Motasi, die stigter van Vroue in Aksie, sê hoewel hulle teleurgesteld is, moet hulle die hof se uitspraak om borgtog toe te staan, respekteer.
“Die gemeenskap gaan reeds gebuk onder erge geweld – veral bendegeweld, waar jongmans van die verskillende bendes mekaar met ongelisensieerde vuurwapens afmaai.”
Sy sê die tempo waarteen die hof deesdae borgtog toestaan aan verdagtes wat herhaaldelik teenoor wetsgehoorsame burgers geweld pleeg, is kommerwekkend.
“Dit gaan nooit ons samelewing ’n kans gun om te herstel en te genees nie. Sommige van die jong mans (verdagtes) het herhaaldelik gewys dat hulle niemand respekteer nie en ook nie ander se reg op lewe respekteer nie. Hulle moet agter tralies gehou word totdat hulle skuldig of onskuldig bevind word op die aanklagte teen hulle,” sluit Motasi af.



