Die 17-jarige verdagte van Strand wat weens vir die moord op Brancoulin Fritz in hegtenis geneem is, het verlede Dinsdag (19 Julie) weer in die hof verskyn.
Die saak is toe weer uitgestel – dié keer tot Vrydag 19 Augustus.
Fritz is op Woensdag 18 Junie by ’n partytjie in die bors gewond en het met sy aankoms by die hospitaal beswyk (“ ‘Ek steier oor my seun se dood’ ,“DistriksPos & Helderberg Gazette, Woensdag 22 Junie).
Die 19-jarige slaogoffer, wat vir die St. George’s-rugbyklub gespeel het, het ’n blink toekoms gehad.
Die tienerverdagte in die saak word volgens ’n vertroulike informant beskryf as iemand met ’n donker verlede en het ook ander sake teen hom. Hy is met sy eerste verskyning in Junie na ’n plek van veilige bewaring geneem waar hy sal bly totdat die hofsaak afgehandel is.
Johanna Fritz, Brancoulin se ma, sê hulle mis hul seun baie. “Ons gaan maar aan, maar ek mis my seun baie – veral soggens en saans – en ek mis die tye wanneer hy homself moes klaarmaak om te gaan rugby oefen,” sê die bedroefde ouer.



