Rouklaers het die afgelope naweek hul laaste eer betoon aan Brancoulin Fritz, wat verlede maand in ’n messteekvoorval omgekom het.
Die 19-jarige rugbyspeler van Strand is Woensdag 18 Junie ná ’n onderonsie by ’n partytjie in die Rusthof-woonbuurt doodgesteek (“Nog ’n jong rugbyspeler geteiken,” Distrikspos & Helderberg Gazette, Woensdag 29 Junie). Dié kranige flank, wat vir die St. George’s-rugbyklub se onder-20s uitgeblink het, is Saterdag (2 Julie) ter ruste gelê.
Die Ou Apostoliese kerk in Twaalfdestraat, waar Fritz se begrafnisdiens plaasgevind het, was stampvol en dit was opvallend hoeveel oudrugbyspelers en huidige spelers van St. George’s-rugbyklub die diens bygewoon het.
’n Teksvers uit Korinthiërs, wat handel oor geloof, hoop en liefde, is by die opening van die diens gelees. “En nou bly geloof, hoop, liefde – hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.”
Dit is presies hoe almal na Fritz verwys het – ’n liefdevolle omgeemens.
Andries Toerien, Fritz se oom, het in sy danktoespraak onthou hoe hy altyd daar was vir almal en dat hy baie lief was vir sy ouers. “Hy het altyd sy ma gehelp. Hy was altyd reg om haar by te staan. Hy het sy ouers gedien en hulle op sy hande gedra,” onthou Toerien.
Fritz se ma en pa, Johanna en Ivan, het almal vir hul ondersteuning bedank. “Ons wil die begrafnisondernemers asook die mense van ons kerk bedank vir als. Dan moet ons die St. George’s-rugbyklub vir hul teenwoordigheid hier by die begrafnis bedank. Dit was ’n voorreg om julle in my seun se lewe te kon gehad het,” sê Johanna.
Sy vertel sy gaan dit mis om hom in die middae te hoor wanneer hy musiek kliphard gespeel en gedans het.
“Hy was baie lief vir pasta en kaas; dit was sy gunstelingkos. Hy het dit ook altyd geniet as ek vir hom terte gemaak het. Ek gaan hom so mis,” het sy bygevoeg.
Fritz word oorleef deur sy ouers en broer en suster, Adrian en Allison.
. Die 17-jarige verdagte wat in verband met Fritz se moord in hegtenis geneem is, het al ’n paar keer in die Strand-landdroshof verskyn. Die verdagte word in ’n plek van veilige bewaring aangehou en word verwag om Dinsdag 19 Julie weer in die hof voor te kom.

Brancoulin Fritz wat in die messteekvoorval gesterf het en die afgelope Saterdag ter ruste gelê is.


