Die 18-jarige Jacklynn Mahoepa sou die eerste in haar familie wees wat universiteit toe te gaan – totdat ‘n vermeende “tegniese fout” haar drome in duie laat stort het.
Sy is oorspronklik vir ‘n kursus aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) aanvaar voordat die mat onder haar uitgeruk is.
“Ek was baie teleurgesteld, want dit is iets wat ek wil doen – ek wil gaan studeer,” sê dié tiener van Strand.
Jacklynn het verlede jaar aan die Strand Sekondêre Skool gematrikuleer. Vir haar was dit die hoogtepunt van ‘n jaar van opoffering en harde werk.
“Toe ek my uitslae kry, was ek só trots op myself, want ek het met ‘n baccalaureustoelating geslaag,” verduidelik sy.
“Ek het my ma so trots gemaak, want ek het alle struikelblokke oorkom,”
Met haar sertifikaat as bewys van haar sukses het sy geweet haar droom om te studeer, is nou binne bereik.
Sy het tydens haar matriekjaar by twee universiteite aansoek gedoen en is by KSUT aanvaar – vir joernalistiek.
Jacklynn het die nuus omstreeks 23:00 op Donderdag 29 Januarie ontvang toe sy KSUT se aansoekerportaal besoek het, maar sy beweer sy het geen e-pos of SMS’e gekry nie.
Die aanvaardingsbrief het getoon sy het 48 uur gehad om te registreer voordat die plek aan die volgende geskikte aansoeker gegee sou word.
Sy het nie gehuiwer nie en onmiddellik te werk gegaan om haarself te registreer
Maar toe kom die skok. “Ek het probeer registreer, maar daar was ‘n WEBR-status-probleem,” sê sy. “Die stelsel het gesê ek het nie ‘n WEBR-status nie.”
Die verwarrende foutboodskap het verhoed dat sy vir die program kon registreer.
Die volgende paar dae was sy paniekbevange en het die universiteit tevergeefs probeer kontak.
Toe sy uiteindelik terugvoer ontvang, het dit gelui: “Neem asseblief kennis u is nie aanvaar nie, daarom kan u nie registreer nie.”
‘n Skermgreep het gewys sy kan nie meer registreer nie, omdat die program vol is.
Die nuus het Jacklynn se hart gebreek en haar droom laat verdamp.
Lauren Kansley, ‘n KSUT-woordvoerder, het bevestig Jacklynn is aanvanklik aanvaar, maar haar aanvaarding is nie meer geldig nie.
Die joernalistiekprogram het meer as 1 000 aansoeke vir die akademiese jaar ontvang, maar het slegs plek vir 75 studente.
Jacklynn het 48 uur tussen Dinsdag 27 en Donderdag 29 Januarie tyd gehad om te registreer.
“Toe die aansoeker nie haar plek opgeëis het nie, is dit aan ‘n ander student toegeken,” verduidelik Kansley.
Die universiteit ontken enige tegniese probleme. Volgens Kansley is die 48-uur-registrasievenster standaard bedryfsprosedure vir alle KSUT-kursusse.
Sy sê geen ander aansoekers vir die joernalistiekkursus het soortgelyke probleme ervaar nie. Kansley het bygevoeg dat alle aansoekers ‘n e-pos- of SMS-boodskap sou ontvang het indien hulle ‘n e-posadres of selfoonnommer tydens die aansoekerproses verskaf het.
“Haar ervaring is ongelukkig ‘n waarskuwing dat aansoekers moet bedag wees op hul aansoeke en moet hul plekke betyds aanvaar om teleurstelling te voorkom,”
Die feit dat Jacklynn dit eers Donderdagaand ontdek het, beteken sy het slegs ure oor gehad om te registreer.
Val MacDonald, ‘n opvoedingsaktivis, betwis dit was slegs ongelukkig.
Sy beweer dit is simptomaties van ‘n groter mislukking van die universiteit, en sy het glo talle boodskappe ontvang van ander aansoekers wat oor soortgelyke probleme kla en met dieselfde probleem sit.
“Die aansoekproses moet verander om dit vir studente makliker te maak,” sê MacDonald.
Vir nou is Jacklynn gedwing om ‘n alternatiewe plan te maak, maar haar hart lê by haar studies.
“Ek wil nie eintlik nou werk nie; ek wil studeer, want ek is nog in die leerfase van my lewe,”
sê die tiener.




