GBV-bewusmakingsdag by Gordonsbaai-strand met pamflette en boereworsbroodjies-verkoping op 29 November
GBV-bewusmakingsdag by Gordonsbaai-strand met pamflette en boereworsbroodjies-verkoping op 29 November

Gemeenskappe in die Helderberg het die afgelope week saamgestaan in ‘n kragtige vertoon van solidariteit tydens 16 dae van aktivisme vir geen geweld teen vroue en kinders nie.

Vier optogte en bewusmakingsaksies het van Dinsdag 25 tot Saterdag 29 November in Gordonsbaai en Strand plaasgevind.

ACVV Strand-tak lei optog van treinstasie na polisiestasie op 25 November tydens 16 Dae van Aktivisme
Die aksies het op Dinsdag 25 November, die amptelike begin van die nasionale veldtog, ‘n hoogtepunt bereik toe twee gelyktydige optogte gehou is. Die Afrikaanse Christelike Vroue Vereniging (ACVV) se Strand-tak het ‘n optog van Strand-treinstasie na die polisiestasie gelei. FOTO’S: Barend Williams
Gordonsbaai-polisie se geestelike eenheid hou gebedsstap van Rooiplein na Bikinistrand
Gordonsbaai-polisie se geestelike misdaadvoorkomingseenheid het terselfdetyd ‘n gebedsstap van Rooiplein na Bikinistrand aangebied. Foto: Verskaf
Helderberg-kinderbeskermingsforum marsjeer deur Broadlands Park teen GBV op 26 November
Woensdag 26 November het die Helderberg-kinderbeskermingsforum geslagsgebaseerde geweld (GBG) in Broadlands Park aangespreek met ‘n optog vanaf Rusthof Sekondêre Skool deur Petunialaan en Fernstraat. Deelnemers het pamflette oor geslagsgebaseerde geweld en kindermishandeling uitgedeel.
AO Nico Beukes van Strand-polisie spreek tydens optog oor GBV en roep mans op om op te staan
AO Nico Beukes, Strand-polisie se koördineerder vir maatskaplike misdaadvoorkoming, het die toepaslikheid van die optog in Broadlands Park verduidelik aangesien die gebied die grootste bydraer tot geweldsmisdaad in die polisiekantoor se gebied is. Beukes, wat by albei optogte gespreek het, het op Dinsdag tydens die optog erken dat geslagsgebaseerde geweld ‘n probleem in Strand is, en Woensdag het hy mans gemaan om teen die verskynsel op te staan.
Charlotte Elizabeth Darries, Broadlands Park-inwoner, deel persoonlike verhaal oor gemeenskapsgeweld
Charlotte Elizabeth Darries, inwoner van Broadlands Park, het haar persoonlike verhaal gedeel om die realiteite van gemeenskapsgeweld te beskryf.
GBV-bewusmakingsdag by Gordonsbaai-strand met pamflette en boereworsbroodjies-verkoping op 29 November
Die laaste optog het Saterdag 29 November by Gordonsbaai-strand plaasgevind toe die polisie se geestelike misdaadvoorkomingseenheid ‘n geslagsgebaseerde geweld-bewusmakingsdag aangebied het. Lede van die polisie, Gordonsbaai Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), plaaslike kerke en vroue-organisasies het pamflette uitgedeel.

Die geleentheid het ‘n dubbele doel gedien – bewusmaking én fondsinsameling deur die verkoop van boereworsbroodjies vir Goeie Hoop, ‘n kinder- en jeugsorgsentrum in die gebied.

Die week se aktiwiteite het verteenwoordigers van verskeie organisasies betrek. Deelnemers was in swart en pers geklee as simbool van ondersteuning vir slagoffers van geweld.

Die optrede beklemtoon die groeiende samewerking tussen gemeenskapsorganisasies, veiligheidsmagte en welsynsorganisasies om misdade aan te spreek wat nie net die Helderbergkom teister nie, maar die kwesbaarste lede van die samelewing landswyd raak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article