Dit verg ‘n paar spelers om Helderberg se sterkman Dian Maritz Koen te keer.

Neels du Toit

Die Helderberg-rugbyklub se eerste span – baie dun weens talle beserings – het Saterdag (26 Julie) sy grootste pak slae (12-31) nog op sy tuisveld in sy wedstryd teen Brackenfell, 10de op die Superliga A- punteleer, gekry.

Ironies genoeg was Berge eerste op die telbord in die 10de minuut ná ‘n mooi drie van die belowende veelsydige agterspeler G-Jay Fortuin, wat sy 17de drie vir die seisoen gedruk het (5-0).

Hierna het die Brakkies oorgeneem en die telling met drie drieë voor rustyd na 5-17 omgeswaai.

In die 51ste minuut het Berge se heelagter, Jayden Daniels, van sy eie 22-meter-lyn af met ‘n kronkellopie dwarsdeur Brackenfell gehardloop en onder die pale oorgeduik. Michael Visser se doelskop het dit 12-17 gemaak en dit het gelyk asof lig in Berge se donker tonnel skyn. Brackenfell was egter nog nie klaar nie en het nog twee verdoelde drieë bygevoeg – eindtelling 12-31.

Buiten Fortuin en Daniels het die agtsteman, Duan Koen, en die flank Blaine Skeleton skitterspel opgelewer.

Met Berge se uitgedunde spelertal is Woensdagaand se ligabepaling in die Charles Morkel-stadion teen die gedugte Ikeys ‘n berg van ‘n vooruitsig.

Ander uitslae:

– SLA: St George’s 33-55 UWC;

– SLB: Macassar 17-8 KSUT;

– SLC: Strand United 3-10 Langa;

– Promosieliga: Blue Stars 17-10 Sir Lowrians; en Morning Star United 26-22 Raithby Universals.

Wedstryd vir Woensdag 30 Julie:

– SLA: Helderberg t. UCT (Charles Morkel).

Wedstryde vir Saterdag 2 Augustus:

– SLB: Macassar t. NTK (Riverside Park);

– SLC: Strand t. All Saints (Gustrouw), Busy Bees t. Strand United (Langa); en

– Promosieliga: Raithby Universals t. Blue Stars United (Raithby).

Hierdie gevaarlike duikslag op Helderberg-speler Jodeci Davids het met ‘n strafskop teen Brackenfell geëindig. Foto’s: Peter Bee
Die Helderberg-kaptein Michael Visser soek onder- steuning terwyl hy betrap word.
Ludeka Van Tonder vir Helderberg storm die voordeellyn aan en vind ‘n taai verdediger.
Die Helderberg-losskakel Marthinus Carstens loop in ‘n Brackenfell-muur vas. Foto’s: Peter Bee
‘n Desperate duikslag op Jaeden Daniels kan hom nie keer om vir Helderberg aan te teken nie.
Blaine Skelton (rooi skrumkap) werk hard vir Helderberg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article