Die Little Angels-dagsorgsentrum se jaarlikse atletiekdag is Saterdag 4 Maart by die Hoërskool Macassar gehou en het weer eens alle verwagtinge oorskry.
Soos dit al die gebruik is, nooi hierdie instansie van Derdestraat in Firgrove gewoonlik ’n nabygeleë kleuterskool om aan die dag se verrigtinge deel te neem. Die Kinder Garden-kleuterskool in Musicalaan, Macassar, was vanjaar die genooide span.
“Mededingend” is natuurlik ’n relatiewe term deurdat geen span noodwendig met die louere wegstap nie. “Almal is wenners,” sê Melony Jefthas, die organiseerder en hoof van die Little Angels-dagsorgsentrum.
Amanda Albrecht, die hoof van die Kinder Garden-kleuterskool, sê haar werk as verpleegster in die kindersaal by die Helderberg-hospitaal was haar grootste motivering om die kleuterskool te begin.
“Ek het in my sowat 20 jaar diens as verpleegster in die kindersaal werklikwaar ’n liefde en passie vir kinders ontwikkel,” vertel Amanda.
Die verrigtinge het sommer vroeg begin deurdat tente en gazebo’s reeds van vroegdag af opgerig is.
Toeskouers is verwelkom met jolige musiek, wat deur twee plaaslike platejoggies verskaf is.
Die twee seremoniemeesters, oftewel kommentators, Stuart Afrika en Japie Konstabel, het heerlike vermaak verskaf met hul kwinkslae tussen die verskillende wedlope deur. Trouens, hulle het die kinders sowel as ouers heerlik aangemoedig om hul bes te doen.
Die vure is vroeg reeds aangesteek en worsrolletjies en slaptjips was op die onderskeie kleuterskole se spyskaarte.
Al het die trane – soos gewoonlik –plek-plek gevloei, het die kleuters hul staal gewys met items soos die 30 meter-wedloop, sakresies en aflos. Selfs ’n item waaraan babas deelgeneem het, was op die program. Die kleuters se ouers het tot groot vermaak van die juigende skare mekaar ook die stryd aangesê. Dit was duidelik dat sommige van hierdie manne en vroue in hul jonger dae inderdaad kranige atlete was.
Ná al die pret en ywerige deelname het die onderskeie instansies se opvoeders, onder wie Jefthas en Albrecht, aan die beurt gekom om hul staal op die baan te wys.
Die heuglike verrigtinge is afgesluit met ’n prysuitdeling, en hiermee is weer eens bewys dat almal wenners is deurdat elke deelnemer ’n medalje ontvang het.
Die onderskeie hoofde het na die afloop van die verrigtinge hul hartlike dank uitgespreek teenoor almal wat ’n bydrae gelewer het om ’n onvergeetlike oggend te verseker.



