’n Familie-reünie in Strand het ’n spesiale geleentheid geskep toe die 93-jarige oudonderwyseres Lesley de Kock met drie van haar oudleerders herenig is. Die Botha- en Duminy-familie het op Saterdag 28 Desember in die braaisaal van die Suiderstrand NG kerk byeengekom om familiebande te versterk. De Kock, ’n inwoner van Strand, is spesiaal na die geleentheid genooi. Sy het haar onderwysloopbaan in 1951 by Stanford Sekondêre Laerskool (nou die Laerskool Okkie Smuts) in die Overberg begin. Johanna Botha (’n nooi Duminy) was een van haar eerste leerders in die destydse standerd 5 (nou gr. 7) en het saam met haar susters, Rita Thiart en Isabel Volschenk (’n nooi Duminy), die spesiale ontmoeting gereël. “Juffrou De Kock was baie gewild onder ons leerders. Sy was gemoedelik en aangenaam – iets wat sy steeds is,” het Botha gesê. De Kock het gesê die reünie het haar jaar gemaak. “Dit was ’n gelukkige oomblik om my drie oudleerders weer te sien.” By die spesiale geleentheid (van links agter) is Johanna Botha (84), Rita Thiart (83) en Isabel Volschenk (80) met hul oudonderwyser Lesley de Kock (voor).


You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article