Ná twee jaar van rekordlae rentekoerse waar huiskoop hoogty gevier het te midde van die pandemie, het rentekoerse in November 2021 begin styg en geleidelik deur die loop van 2022 geklim. Wat lê vir ons in 2023 voor?
Daar is aanduidings – plaaslik en in die buiteland – dat inflasie ’n kruin begin bereik. Kenners en ekonome klink meer optimisties dat rentekoerse minder skerp sal styg en ’n plato kan bereik. Dié syfers kan later vanjaar selfs begin daal. Dit is goeie nuus vir verbruikers, en veral voornemende huiskopers en bestaande huiseienaars wat verbande afbetaal.
“Dis belangrik dat die Reserwebank inflasie onder beheer moes bring, en een van sy grootste hefbome is die rentekoers. Ons verstaan dus waarom dié koerse geklim het,” sê Carl Coetzee, uitvoerende hoof van Better Bond. “Maar, dit beïnvloed natuurlik bekostigbaarheid vir huiskopers, en hulle moes meer noukeurig begroot. Die residensiële eiendomsmark het egter deurgaans sterk vertoon en veral sekere marksegmente het aangenaam verras.”
Data toon dat die aantal huislening-registrasies bestendig gebly het en pal hoër was as voor die pandemie in 2020. “Boonop was ons verbandgoedkeuringsvlakke vir November 2022 ook 2,01% hoër as ’n jaar vantevore en dié vir nuwelinge in die huismark 1,44% hoër,” sê Coetzee.
Hy voeg by: “Ons verwag dat huispryse vanjaar effens kan daal totdat die huidige rentekoers-siklus ’n toppunt bereik het. Better Bond sien egter steeds ’n gesonde vraag na huislenings in alle prysklasse van die mark en streke van ons land. Dit sê vir ons eiendom word steeds as ’n goeie belegging beskou – veral in onseker tye.”
Hier is ’n paar van die neigings wat vanjaar ’n invloed op die plaaslike eiendomsmark kan hê, volgens Coetzee:
1. Semigrasie is steeds met ons en kan selfs ’n nuwe rigting inslaan! Data toon ’n beduidende aantal huiskopers, ouderdom 46 en ouer, wat kan bekostig om in ’n ander stad, provinsie of deel van die land, hoofsaaklik die Wes-Kaap, te hervestig. Die afgelope jaar het semigrasie-syfers 35% gestyg en die meeste mense wat hervestig het, is tussen 49 en 64 jaar oud. Huiskopers in die 36-49-ouderdomsgroep maak ook tans noemenswaardige leefstylkeuses in terme van hervestiging. “Ongeveer 20% van die kopers wat Wes-Kaap toe verhuis, sal ’n eiendom aanskaf wat groter is as waarin hulle voorheen gewoon het, maar laer is in waarde,” verduidelik Coetzee.
Meer omgekeerde semigrasie kan ook te wagte wees.
“Ons sien ’n gedeeltelike terugkeer van kopers – veral aan die bopunt van die mark – van kusgebiede na Gauteng, vermoedelik omdat hulle weer meer op kantoor moet wees. Hulle verkies dikwels om in ’n landgoed-ontwikkeling te woon, waar hulle goeie sekuriteit en ’n hoëgehaltelewenstyl kan geniet,” sê Coetzee.
2. Silwer semigrasie sal voortduur – dit is ouer huiskopers wat besluit om te hervestig, byvoorbeeld deur na klein dorpies langs die Tuinroete en Walviskus, of die Kaapse Wynlande, te verhuis. Volgens Lightstone (Nov 2022) verkies hierdie groep ook grootliks die Wes-Kaap. Hoewel 46% van hulle kleiner huise aanskaf omdat hulle wil afskaal, is die nuwe blyplekke dikwels meer werd.
3. Deeltitel-eiendom bly gewild. Deeltitel verteenwoordig tussen 37% en 44% van eiendomsvoorraad die afgelope paar jaar, volgens Lightstone, en bykans ’n derde van alle eiendomsverkope. “Deeltitel-eiendom is dikwels ’n uitstekende manier om ’n eerste eiendom aan te skaf en sodoende die eiendomsmark te betree,” sê Coetzee. Die aantal losstaande huise wat die afgelope vyf jaar van eienaars verwissel, het geleidelik afgeneem.
4. Volhoubaarheid word meer belangrik. Kopers sal altyd uitkyk vir blyplekke wat gerieflik is en ’n veilige hawe bied, maar deesdae is hulle ook op soek na eiendomme wat volhoubare elemente insluit. GWI, wat verbruikerneigings bestudeer, sê die gewildheid van slimtoestelle vir gebruik tuis het wêreldwyd met 41% toegeneem sedert 2019. Outomatisering maak die moderne lewe (ge)makliker. Coetzee voeg by: “Beurtkrag en die stygende koste van brandstof en elektrisiteit, asook die skaarsheid van kosbare hulpbronne soos water, beteken meer volhoubare opsies – soos ’n boorgat, sonpanele en omskakelaar – is hoog op die lys vir Suid-Afrikaanse huiskopers, asook ruimte vir ’n kantoor en goeie konnektiwiteit, sodat hulle tuis kan werk. Hierdie elemente beteken boonop dat die eiendom op die lang duur waarskynlik meer werd sal wees.”
5. Die leefstyl-landgoed is hier om te bly. Aanvraag na dié soort eiendom sal aanhou toeneem namate veiligheid en sekuriteit al belangriker word – veral vir gesinne. “Die pandemie het ons geleer hoe belangrik goeie geriewe in die nabye omgewing van jou huis is,” sê Coetzee. ‘Ons sien byvoorbeeld veral in Gauteng ’n toename in die waarde van eiendomme wat binne ’n leefstyl-landgoed geleë is.”
6. Die mikroleefstyl is ’n treffer onder stadsbewoners wat absolute eenvoud verkies. Byvoorbeeld, in die Uxolo-ontwikkeling in die middestad van Kaapstad, is 35 eenhede van slegs 24m² tot 40m² elk, ideaal vir professionele jongmense. Volgens die jongste State of Cape Town Central City-verslag, is die meeste inwoners in die hartjie van die Moederstad 25 tot 34 jaar oud. “Jy sal gewoonlik mikro-wooneenhede aantref in geboue waar daar ook geriewe soos restaurante, koffiewinkels, gemeenskaplike werkareas en oefenruimtes is – alles binne een gebou. Ons kan sien hoekom hierdie gerieflike lewenstyl meer en meer aanhangers lok!” sê Coetzee.
7. Uitgebreide families kies ’n multi-generasie lewe waar hulle hulpbronne kan deel en sodoende lewenskoste afbring. Coetzee sê: “Groter eiendomme maak dit moontlik vir twee of drie gelagte om in harmonie saam te woon omdat daar genoeg plek vir almal is. Ma en pa kry hulp met kindersorg, oupa en ouma kan hul kleinkinders sien grootword en hulle voel gewaardeer wanneer vaardighede soos tuinmaak, kook, bak of handwerk met jonger lede van die gesin gedeel word – almal kry iets uit die reëling!”
8. Eiendomstegnologie (‘proptech’) sal ’n groter rol speel in eiendomstransaksies. Wêreldwyd het beleggings in eiendomstegnologie met 28% sedert 2020 toegeneem, volgens die Real Estate Tech Venture Funding-verslag, met dié dat meer en meer verbruikers verkies om aanlyn sake te doen. Volgens Statista het plaaslike beleggings in eiendomstegnologie die $6 miljoen-kerf in die eerste helfte van 2022 bereik.
Kopers wil beheer hê oor hoe hulle ’n huis koop, en dit sluit in dat hulle 24 uur per dag vir ’n huislening kan aansoek doen.



