’n Tweede Flameros-restaurant met ’n deurry open eersdaags op ’n perseel in Gordonsbaai-weg, Strand. Foto: Jamey Gordon


Flameros Chicken Burger Grill, die gewilde wegneemeetplek in Hoofweg, Strand, wat in vlamgebraaide hoender spesialiseer en naam gemaak het met sy legendariese, reusagtige hoender­bur­gers, blaas vanjaar 29 kersies op sy verjaardagkoek van besigheidsukses uit!

“Ons as span is diep dankbaar vir 29 jaar van diens aan die gemeenskap en in besonder aan ons klante wat ons vir soveel jaar ondersteun het. Julle het ons familie geword,” sê Annamarie Buckley, wat die onderneming saam met twee ander ystervroue met sukses bestuur.

Flameros se deure is aanvanklik as ’n Mochachos-franchise op 24 Januarie 1995 deur Annamarie en haar ma, Ester Buckley, geopen (“Dié vroue maak ’n groot sukses van Flameros,” DistriksPos, 31 Mei 2018). Sowat 10 jaar later, nadat hul kontrak verstryk en die oorspronklike franchisegewer dit verkoop het, het die ma-en-dogter-duo besluit om op hul eie te gaan. Gevolglik is hul klante by ’n naamveranderingskompetisie betrek.

Die bestuurder, Chantell Victor, wat kort ná Flameros se nederige begin by die onderneming aangesluit het, dien vandag reeds meer as twee dekades as ’n toegewyde werknemer en die eienaars se regterhand. Op die vraag wat die resep vir hul sukses is, verklap die trio dat die bestanddele uit harde werk, deursettingsvermoë en ’n passie vir kos bestaan.

In die lig van Flameros se verjaardag is die bestuurslede opnuut dankbaar vir die kosbare bate van lojale personeel as staatmakers wat hulle deurdra en steunpilare in moeilike tye is.

Die restaurant se 29ste bestaansjaar val saam met nog ’n mylpaal wat hulle eersdaags vier – die opening van ’n tweede restaurant met die voordeel van ’n deurry-toevoeging vir honger magies.

“Ons het al lank ’n behoefte om ’n beter diens aan klante te lewer aangesien parkering ’n groot probleem is. Tyd bly vir almal ’n groot faktor en daarom wil ons dit nou net geriefliker maak. Die ander oorweging was om werk te skep. Ons gaan ons lekker, morsige burgers met slaptjips asook hoendernuggets vir die kleinspan aanbied. Die mothership sal voortgaan met alles op die spyskaart,” deel Annamarie.

Een van die beste verkopers op die spyskaart is steeds die immergewilde hoenderburger en aartappelskyfies. Elke hoenderfilet word rou met speserye bestrooi en op bestelling op ’n oop vlam gebraai voordat dit op ’n vars broodrolletjie, wat volgens spesiale grootte gebak word, met blaarslaai, tamatie en ’n spesiale sous gepak word. Benewens ruim porsies kan klante ook beesvleis kies.

Wat bydra tot die besonderse smaak van elke Flameros-wegneemete is dat Ester die kombuis in haar voorskoot beman en toesien dat die kos met ’n knippie liefde en passie voorberei word.

Hoewel die deurry-restaurant sy deure eersdaags oopswaai, sê Annamarie by die moederskip sien almal daarna uit om klante se vriendelike gesigte te sien en hul stories te hoor.

“Sonder julle sou ons nie kon bereik wat ons bereik het nie. Ons wil net dankie sê vir jul liefde vir die kos en al die lekker kuiertjies. Julle lê ons na aan die hart.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article