Esther Steyl by haar afskeidspartytjie. Sy het ná bykans 40 jaar afgetree en is deur die Lwandle-polisie stasiebevelvoerder, lt. kol. Xolani Williams, vir haar uitstaande diens bedank en gegroet.


Ná 39 jaar en sewe maande is dit uiteindelik tyd vir ’n vrou van Strand, wat aan die stuur van die Lwandle- polisiekantoor se geldsake was, om af te tree.

Esther Steyl (58) het in Augustus 1982 as ’n finansiële administratiewe klerk by Kaapstad-sentraal se polisiekantoor begin werk. Daarna het sy by die Strand-polisie aangesluit, waar sy 21 jaar finansiële klerk was.

“Ek is in 2009 na die Lwandle-polisiekantoor as hoof- rekeningkundige klerk bevorder,” voeg Steyl by.

Sy sê sy gaan haar kollegas die meeste mis.

“Ek moes aftree. My dogter het tot onlangs nog aan lupus gely en is so twee maande gelede oorlede. Ek sou aftree en na haar omsien, maar die Here het ander planne gehad en sy is nou gesond by Hom.”

Steyl sê haar dogter het twee kinders agtergelaat – ’n eenjarige en ’n sewejarige – na wie sy en haar man nou gaan omsien.

“Dis ’n uitdaging, want ek moet nou twee kinders grootmaak en deur die skool kry. Maar my dogter is gesond nou by die Here.”

Sy spot ook en noem die aftrede gee haar nou meer vrye tyd saam met haar man.

“Ons kan nou (as my man nie op ’n skof by die werk is nie) ’n bietjie rustig op ons tyd gaan uiteet en na die kinders omsien. Ek het nou ’n bietjie meer vrye tyd vir sulke dinge.”

Lt.kol. Xolani Williams, die stasiebevelvoerder by die Lwandle- polisiekantoor, beskryf Steyl as ’n toegewyde en passievolle mens in haar werk. “Sy het die boek van haar lewe in haar tyd by die polisie volgeskryf. Sy was ’n baie goeie voorbeeld vir ons jong polisiebeamptes en ons hoop almal het iets by haar geleer, want sy het letterlik haar lewe aan die polisie gewy,” sê Williams.

Steyl het ’n langdiensmedalje van die nasionale polisiekommissaris ontvang. Sy het ook verskeie sertifikate ontvang vir al haar toewyding en harde werk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article